Kanna-wenners vir KKNK-2018 bekend gemaak

Met drie pryse elk het die 24ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se debuutproduksie Swerfgoed, ’n distopiese blik op ’n wêreld wat gebuk gaan onder waterskaarste, en Hierdie lewe, ’n verwerking van Karel Schoeman se gelyknamige roman, die voortou geneem by vanjaar se KKNK Kanna-pryse. Die pryse vereer jaarliks uitnemende werk by die KKNK.

Die Kanna-wenners in die 15 kategorieë, wat twee nuwe kategorieë vir tegniese uitnemendheid en beste teaterontwerp insluit, is Sondagaand 13 Mei by ’n spesiale geleentheid op Nasdak in Kaapstad bekend gemaak, met Nina Swart as die gasvrou.

Bauke Snyman is bekroon met die Kanna vir die beste nuutgeskrewe teks vir Swerfgoed, wat verlede jaar die aandag getrek het by Kunste Onbeperk se Teksmark. Nicole Holm en Richard September is onderskeidelik aangewys as die beste vroulike en beste manlike byspeler. Swerfgoed word later vanjaar by die Baxterteater aangebied en sal ook te sien wees by die Vrystaat Kunstefees. Dit is ’n ko-produksie tussen NATi, die Baxterteatersentrum, die US Woordfees en die KKNK.

Hierdie lewe, ’n US Woordfees-produksie ter huldiging van Schoeman wat verlede jaar op 1 Mei oorlede is, het aan Wolf Britz die prys vir beste regie én beste teaterontwerp besorg, terwyl Antoinette Kellermann die Kanna vir beste aktrise gewen het. Mbulelo Grootboom het die Kanna ontvang vir die beste akteur vir sy spel in Gif/Poison/Ithyefu, ’n verhaal van ’n man en vrou wat jare ná hul seun se dood weer by sy graf ontmoet.

Die prys vir die beste teateraanbieding het gegaan aan die plekspesifieke produksie Ons is almal freaks hier – ’n ko-produksie tussen die KKNK en die US Woordfees ­– geskryf deur die Hertzogwenner Ingrid Winterbach, waarin sy fokus op die verhaal van Saartjie Baartman.

Babbelagtig, ’n prettige narre-en-mimiekspel, is bekroon as die beste debuutproduksie, sowel as die beste kinderteateraanbieding.

Doos/Box (met Stephanie Gericke en regie deur Llandi Beeslaar) is aangewys as die beste Uitkampteater-produksie, terwyl Du Toit Albertze die Kanna vir die beste opkomende kunstenaar vir Die meermin-kompleks gekry het. Albertze is ook die skrywer van Die meermin-kompleks, wat deel was van 2017 se Teksmark.

Uit die geledere van die vereerdes by vanjaar se KKNK het twee kategoriewenners gekom. Johannes en Collen Maswanganyi, pa en seun, se uitstalling Dance and Carve with My Father het die Kanna vir die beste bydrae tot visuele kuns gewen. Johannes was die feeskunstenaar en Collen die wenner van Kunste Onbeperk se prys vir ’n nuwe stem. Lepeltjie vol snare, met Frazer Barry en Hannes Coetzee (wat vanjaar met Kunste Onbeperk se Kruispunt-prys vereer is), is aangewys as die beste musiekproduksie. Die legendariese oom Hannes is bekend vir sy “optel-en-knyp”-kitaarspelstyl en die teelepel in die mond waarmee hy klanke optower.

Pieter-Jan Kapp, tegniese bestuurder by die fees wat reeds van die eerste KKNK ’n verbintenis met die fees het, is die eerste wenner van die Kanna-prys vir tegniese uitnemendheid. Volgens Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, is dit ingestel juis omdat niks van die wonder wat op die verhoë gebeur, moontlik sou wees sonder die harde werk wat agter die skerms gedoen word nie.

’n Spesiale prys vir die beste produksiebemarking, geborg deur Lumico, is toegeken aan Moord in Ixiastraat ’n Bal-oog-en-Brommel-avontuur. Die prys word toegeken aan ‘n produksie wat besonderse bemarkingsinisiatief aan die dag gelê het voor en tydens die fees. Die waarde van die prys is R75 000 en sluit onder meer die ontwikkeling van ‘n webtuiste vir die produksie en opdaterings vir ’n jaar in.

Die Kanna-paneel, onder leiding van die sameroeper Mareli Stolp, het bestaan uit Amelda Brand, Retha Bornmann, Diane de Beer, Aidan Erasmus, Rafiek Mammon, Thami Mbongo, Laetitia Pople en Tracey Saunders.

Die Kanna-kontantpryse is geborg deur Absa, die ATKV, Castle Lager, Huisgenoot, Kunste Onbeperk, Media24, NATi, Sarie en Ton en Anet Vosloo. Elke wenner het ‘n Kanna-beeldjie deur Danélle Janse van Rensburg en ‘n kontantprys ontvang. Totale prysgeld van R140 000 is uitgedeel.

Teken nou reeds volgende jaar se feesdatums aan, want van 21 tot 27 Maart gaan die KKNK se 25ste verjaarsdag op luisterryke manier gevier word.

Hier is die volledige Kanna-wennerslys:

Kanna vir die beste bydrae tot visuele kuns, geborg deur Absa

Johannes en Collen Maswanganyi (Dance and carve with my father) 

Kanna vir die beste musiekproduksie, geborg deur Huisgenoot

Lepeltjie vol snare 

Kanna vir die beste teateraanbieding, geborg deur die ATKV

Ons is almal freaks hier 

Kanna vir die beste debuutwerk, geborg deur Media24

Babbelagtig 

Kanna vir die beste kinderteater-aanbieding, geborg deur NATi

Babbelagtig 

Kanna vir die beste Uitkampteater-aanbieding, geborg deur NATi

Doos/Box 

Kanna vir die beste opkomende kunstenaar, geborg deur Ton en Anet Vosloo

Du Toit Albertze (Die Meermin-kompleks) 

Kanna vir die beste nuutgeskrewe teks, geborg deur NATi

Bauke Snyman (Swerfgoed)

Kanna vir die beste byspeler: manlike, geborg deur Media24

Richard September (Swerfgoed) 

Kanna vir die beste byspeler: vroulik, geborg deur NATi

Nicole Holm (Swerfgoed) 

Kanna vir die beste akteur, geborg deur Castle Lager

Mbulelo Grootboom (Gif/Poison/Ithyefu) 

Kanna vir die beste aktrise, geborg deur SARIE

Antoinette Kellermann (Hierdie Lewe) 

Kanna vir die beste regie, geborg deur die ATKV

Wolf Britz (Hierdie Lewe) 

Kanna vir die beste teaterontwerp, geborg deur Absa

Wolf Britz (Hierdie Lewe)

Kanna vir tegniese uitnemendheid, geborg deur Kunste Onbeperk

Pieter-Jan Kapp

Spesiale prys vir beste produksiebemarking, geborg deur Lumico

Moord in Ixiastraat ’n Bal-oog-en-Brommel-avontuur

Share Button
,

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →