‘Slordige‘ huurwet skep vrese

Kaapstad – Daar is al hoe meer kommer in die sakewêreld dat wetgewing nié baie goed oorweeg en geformuleer word nie. 

Dit lei dan, soos die konsepwysiging van die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting, tot geweldige onsekerheid. 

Die departement van samewerkende regering is gister wyd veroordeel oor die onsekerheid wat geskep is met die bewoording van dié konsepwysiging. 

Die adjunkminister van samewerkende regering, mnr. Yunus Carrim, het gesê dit is te verstane dat huiseienaars in dié moeilike ekonomiese tye angstig is oor ­eiendomsbelasting. 

“Maar in teenstelling met wat in mediaberigte gesê word, hoef die eienaars van een of meer residensiële eiendomme nié kommersiële belastings vir hul bykomende residensiële eiendomme te betaal nie.” 

Volgens Carrim sal die konsep aangepas word, indien nodig, om te verseker dat dit duideliker is alvorens dit aan die parlement voorgelê word. 

Prof. Andreas van Wyk, ’n regsgeleerde en oudrektor van die Universiteit Stellenbosch, het gesê daar is algemene kommer in die sakewêreld dat wetgewing nie meer baie goed oorweeg en geformuleer word alvorens dit gepubliseer word nie. Dit veroorsaak geweldige onsekerheid. Net so was daar onduidelikheid met die Maatskappyewet. Dié wet is reeds in werking, maar onsekerheid bestaan nog, het Van Wyk gesê. 

Die DA het gesê dis duidelik dat die doel van die konsepwysiging is om meer soorte residensiële eiendom met hoër kommersiële eiendomsbelasting te belas. 

Die DA het die manier verwelkom waarop Carrim wegbeweeg het daarvan dat alle tweede residensiële eiendomme as kommersiële eiendomme belas word. 

“Dit was duidelik in reaksie op die storm van protes wat gevolg het op die oorspronklike beriggewing van die konsepwysiging.” 

Mnr. Ian Neilson, onderburgemeester van Kaapstad, het gesê Carrim se gerusstellings oor die konsepwysiging word verwelkom, maar dit kan nié verseker word deur die huidige weergawe van dié wysiging nie. 

“Hy lewer nie kommentaar oor die sleutelkwessie dat die mag van plaaslike regering weggevat word om te bepaal wat die eiendomsbelasting-kategorieë moet wees nie. 

“Daar is geen rede waarom eenvormigheid onder munisipaliteite hiervoor nodig is nie. Elke munisipaliteit behoort te bepaal hoe hy eiendomme wil klassifiseer,” het Neilson gesê. 

Mnr. Erwin Rode, ekonoom en uitvoerende hoof van die eiendomskonsultante Rode en Genote, het gesê: “Daar is geen twyfel nie dat dit, saamgelees met die adjunkminister se verklaring gisteraand, op powere formulering neerkom.” 

– Die Burger

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →