
Die twintigste Algemene Jaarvergadering van die SWD Krieketraad vind Vrydag-aand (29 Julie) by die Konferensiekamer van die Kleinplaas vakansie-oord op Oudtshoorn plaas.
Die verkiesing van ampsdraers vir ‘n termyn van twee jaar is die belangrikste agendapunt vir die vergadering. Die dienende president, Rudy Claassen, wat sedert September 2004 in die stoel is, is weer benoem. Hy word deur ‘n voormalige vise-president, Leroy Hector van Pacaltsdorp United, teengestaan. ‘n Nuwe vise-president sal verkies word nadat André Visser wat sestien jaar op die uitvoerende bestuur gedien het, die tuig neerlê. Hector, wat ook vir die posisie benoem is, word deur John Komanisi van Thembalethu Krieketklub teengestaan. Visser, wat die afgelope ses jaar die vise-president was, was ook voorheen vir tien jaar die tesourier.
Lluwellyn Coetzee, wat as tesourier vir die afgelope vier jaar die liggaam se geldsake behartig het, het homself nie weer verkiesbaar gestel nie.
Shael Lamini van Ramblers is onbestrede vir die pos benoem. Angus Roelfse (Plaaslike liga’s) en Lungelo Stuurman (Operasionele Sake vir Assosiate) is beide onbestrede benoem. Me Debbie le Roux, wat vir meer as ‘n dekade op die bestuur dien, word vir die sekretaris pos deur Isaac Felix (van Pacaltsdorp United) teengestaan. Die dienende bestuurslid vir Klubsake, Mervyn Groenewald, word deur Llewellyn Louw van Pirates United teengestaan. Felix, wat ook vir die pos benoem was, het homself onttrek.
Heidelberg United, wat ses jaar gelede nog in die premieliga gespeel het, en sedertdien in die krieketwildenis was, het se aansoek om her-affiliasie gedoen. Hul affiliasie tesame met Mayflower, Calitzdorp United en Blanco United – wat almal verlede seisoen uit die liga onttrek het – sal vir toelating as affiliate voorgehou word.
Die vergadering begin om 18:30.
UITVOERENDE BESTUUR SWD SKEIDSREGTERSVERENIGING

SWD CRICKET BOARD EXECUTIVE COMMITTEE
