Tarzan in die Tsitsikamma

Hy droom daarvan om die volgende Tarzan te word – sy spiere is gepomp, sy akteursvernuf reg en sy promo gereed (dit maak nie saak wat Rian van Heerden daarvan sê nie). CHRIS DU PLESSIS het De Wet du Toit, ’n Aapman vir die 21ste eeu, buite George gaan opklop voordat dié uit die woud swaai en na Hollywood mik.

’NVerlate inkopiesentrum aan die buitewyke van George was die laaste plek waar ek gedink het ek Tarzan ooit sou ont- moet, maar daar het jy dit nou.

Hy wuif vriendelik en spring ligvoets uit ’n liggeel bakkie wanneer ons naderstap. Of dit nou die regte Tarzan is of nie, dié een het saam met die tye beweeg: Die pagiderm Tantor (sy olifant) is as vervoermiddel vervang met ’n ordentlike paar wiele wat ewe geskik is vir ’n rowwe terrein. En sy camo cargo-broek en swart fleece-baadjie is meer geskik vir die winterwind as die oorspronklike Tarzan se gebreide bosbok-Speedo.

Die enigste waarskuwingsteken lê in die broek se kamoefleer-patroon: Dis P.W. Botha-terrein dié – Suid-Afrika se eie Bible Belt – en die laaste linie van die über-regses. (Jy sien glo die 777-simbool onder in swembaddens as jy met ’n helikopter oor hierdie dorp en Mosselbaai sou vlieg.)

Laas toe ek sulke broeke in George gesien het, was sowat ’n jaar tevore toe ’n groepie jong wou-wees-patriotte in die kroeg verskyn het waar ek en ’n vriend ons Absoluut Laaste Dop gaan afsluk het. Toe ons uitstap, staan die vyf AWB-lede – vier mans en ’n jong vrou wat maklik ’n voormalige Mej. Weerstand kon wees – by die deur en deel volkleur-uitnodigings uit na ’n AWB-saamtrek. Ons moes suutjies wegdeins nadat my vriend besluit het om hulle ’n bietjie aan te vat oor hul politiek…

Ek maak plek in my agterkop om Tarzan, oftewel die 24-jarige De Wet du Toit, te vra of hy in uniform is, maar die reëlings is vir eers te deurmekaar. Ons wil na sy huis toe gaan om pa en ma te ontmoet, maar De Wet dring daarop aan ons volg hom eerder na sy gunsteling-eetplek, spoeg- afstand van die einste kroeg waar ek laas amper ’n paar stewels in die tanne gekry het.

De Wet is as Tarzan herdoop nadat hy vroeër vanjaar ’n video op YouTube bekend gestel het waarin hy as Tarzan in die woude van die Tuinroete pronk. In die video sien ’n mens De Wet – kompleet met ’n lang mes en stertriem – waar hy deur die takke swaai, deur die ruigtes draf, manhaftig uit ’n bruisende rivier rys en dieselfde gehuurde olifante deur die bos lei wat ’n rukkie daarna een van hul oppassers vertrap het.

Hy pas die rol – om alle praktiese doeleindes – perfek. De Wet en sy tweelingbroer, Rudolph, is al sedert hul skooljare doenig met mededingende liggaamsbou, en al sy bulte lyk of dit op die regte plekke sit. Hy lyk in die video ook heel gemaklik op Ollie se rug, en as daar hoendervleis was toe hy in die yskoue rivier rondgespartel het, het die kamera se wye skote dit goed verdoesel.

Die video se vervaardigers het egter effe oorboord gegaan met slow motion-skote en die melodramatiese klankbaan wat dreig om ’n andersins geskikte promosie­video in ’n klugspel te omskep.

Om Tarzan in die niet te sien staar met Carl Orff se “Carmina Burana” wat oor die oerwoud uitbasuin, is ’n bietjie soos om ’n bok met ’n bazoeka te pak. (Dít het De Wet verlede week reggestel met ’n tweede, meer matige videopoging waarin alles van kameelperde, leeus en buffels tot ’n gehuurde Jane optree.)

Sy eerste video op die internet het nietemin genoeg aandag getrek met meer as 7 000 hits in drie maande. Dit het reaksie vanuit alle oorde ontlok – selfs dié van die kletsprogram-aanbieder Rian van Heerden.

’n Mens kan jou net verbeel hoe Rian daar sit en peins oor die week se program: “Mmm, wie sal ek vandeesweek ondervra? Nog ’n vetgesuipte politikus, selfvoldane celebrity-poppie, bebaarde kunste- naar…of ’n bostuklose Tarzan?”

Hoe om Tarzan voor die kamera te verneder, sit egter nie in elke man se broek nie. Rian het die maklikste uitweg gekies: Die dramaturg Deon Opperman is ingespan om die slegsê-formule te vervolmaak.

Rian: “Deon, is De Wet gepas vir die rol?”  Hy skiet letterlik tekort, was Deon se antwoord.

Oor dié gespot is De Wet heel filosofies.

“Dis hulle mening,” sê hy oor die televisieprogram. “As Deon sê hy sou my nie vir die rol gebruik nie, is dit sy saak. Hy’s nie die een wat die nuwe Tarzan moet kies nie. Hy sê ek moet eers groei. Maar Tom Cruise is ook nie juis lank nie.”

Die een wat wél die akteur moet kies wat die rol van die nuwe Tarzan sal vertolk, is die Warner Brothers-vervaardiger Jerry Weintraub, wat al jare lank dreig om nog ’n fliek oor die aapman te maak. John August van Charlie’s Angels-faam is in 2003 genader om die draaiboek vir die nuwe fliek te skryf, maar soos baie ander groot Hollywood-projekte sloer dit.

Intussen bel onse Rian toe weer vir De Wet – dié keer om as gas op te tree op sy radioprogram. Dié keer het hy die Johannesburgse agent Moonyeenn Lee genooi om Tarzan te takel. Sy was veral onbeïndruk met die laaste toneel in die video waarin Tarzan/De Wet met ’n yslike gorilla stoei. “Dis oënskynlik nie ’n regte gorilla nie,” het sy gesê.

De Wet skud net sy kop. “Wou sy nou werklik gehad het ek moes ’n regte gorilla aanvat? Hulle kos geld, jong.”

De Wet koester die rol van Tarzan al sedert hy sy pa se volledige versameling Edgar Rice Burroughs-boeke as kind verslind het.

Die gebroedsel van ’n voormalige polisieman en ’n wiskunde-onderwyseres is in 1987 op Rustenburg gebore. Pa was toe betrokke by natuurbewaring in die Pilanesberg, waar hy ondersoek gedoen het na die onwettige handel in fauna en flora.

Toe die tweeling vyf was, het die gesin na Namibië getrek, waar die seuns vrye teuels gegee is op 11 000 hektaar naby Mariental en later op ’n wildsplaas langs die Botswana-grens. “Elke dag was ’n sonskyndag,” onthou De Wet. “Niks TV nie. Ons het eerder kettie geskiet saam met die plaaswerkers se kinders.”

Ná ’n paar jaar is hulle weer vort, dié keer na ’n plaas op die Tuinroete.

Albei broers het al op Hoërskool P.W. Botha begin toneel speel en gebou aan hulle spiere. Pa was weer ’n inspirasie. “Hy was altyd fiks en gesondheids- bewus,” vertel De Wet. “Hy het tou geklim, fietsgery, karre opgetel…”

Ná matriek is die broers vir ’n gap-jaar Londen toe, waar hulle onder meer as veiligheidswagte gewerk het. De Wet se sagte benadering was om vir potensiële rowers sy liggaamsbou-album te wys. Vir harde koejawels moes die broers soms hul hemde afruk en die spiere pomp om die manne af te skrik. Dit het gewerk – totdat Rudolph een aand deur rowers met messe gedreig is.

Terug op eie bodem, het die broers weer begin swoeg om in Arnold Schwarzenegger se Hollywood-voetspore te volg. Hulle het drama-kursusse gevolg en model- en akteurswerk gedoen.

De Wet het alles wat hy oor toneelspel en sy kinderheld in die hande kon kry, versamel.

Dit was nie ’n groot sprong van daar om die volgende Tarzan te probeer word nie.

“Ek hou van toneel speel en ek hou van liggaamsbou,” sê hy. “Ek het net gedink: Wat is die vinnigste manier om die twee bymekaar te bring?”

Toe hy in 2006 op die internet lees daar’s ’n nuwe Tarzan-fliek op pad, het hy begin planne maak.

Hy het vroeër vanjaar olifante en ’n gorilla-pak gehuur vir sy video en die eindproduk gestuur vir ene Beau Szimilas, ’n werwingsagent vir die rolprent.

Die regisseur Stephen Sommers, van flieks soos The Mummy, GI Joe en Rise of the Cobra, sou die projek aanvanklik stuur, maar dié is glo nou vervang met die Hustle and Flo-regisseur Craig Brewer.

De Wet is verder bemoedig deur die feit dat die vervaardigers glo gesê het hulle soek ’n onbekende ou vir die rol. “I’m ready to test on any vine, anywhere, anytime,” sê hy in sy video wat hom aan die vervaardigers moet bemark. “Because I firmly believe that the will to win is more crucial than skill.”

Szimilas het hom aangeraai om ’n dramakursus van ses maande in die VSA te loop, en De Wet spaar nou hiervoor deur onder meer te help om natuurbewustheid onder kinders aan te wakker.

As die beplande nuwe Tarzan-fliek ooit gemaak word, sal dit volg op ’n lang tradisie. Die eerste aapman-boek, Tarzan of the Apes, het al in 1914 verskyn. Die karakter is grotendeels sonder gebreke geskep, en die aapman is (volgens oorlewering en Wikipedia) altyd standvastig, waagmoedig en sedelik – behalwe wanneer hy wraak moet neem. Hy is vrygewig, maar streng en dring aan op lojaliteit. Hy is geheg aan sy vrou, die nimlike Jane, en wys aandag van ander vroue vriendelik dog ferm van die hand.

Hierdie waardes deel De Wet graag wanneer hy motiveringspraatjies by skole lewer. “Daar’s drie steunpilare in die lewe,” maak hy die tjokkertjies wys terwyl hy na ’n driepootpot wys. “Respek, eerlikheid en dissipline. As die een misluk, val die pot om.”
Tarzan sou dit self kwalik beter kon stel as Afrikaans in sy repertorium was. (Hy is skynbaar Frans, Duits, Aap, Swahili, Nederlands, Arabies, Olifant, Leeu asook klassieke Grieks, Latyn en Maja magtig.)

Hoewel Rudyard Kipling se Mowgli glo deur Rice Burroughs se karakter beïnvloed is, het Kipling gesê Rice Burroughs het Tarzan of the Apes net geskryf “sodat hy kon uitvind hoe swak hy ’n boek kon skryf en daarmee kon wegkom”.

In die vroeë jare sewentig het Tarzan ook kritiek onder die linkses ontlok. Hy is as ’n rassis uitgekryt oor die boek se stereo-tipering van swart mense (altyd lenige, donker krygers wat praat in babbelende gebaretaal), Arabiere (immer nors), Swede (algar met vloeiende geel snorre) en Russe (kaart-verneukers).

Hy stel homself die eerste keer aan Jane voor as “Tarzan, the killer of beasts and many black men” en wanneer hy die oerwoud verlaat en plaasarbeiders vir die eerste keer in die VSA sien, wil hy hulle instinktief vermoor.

Ek raak toenemend bekommerd terwyl ek dié karakterskets lees, en wanneer ek De Wet weer ontmoet – dié keer om foto’s te neem by die botaniese tuin in George – vra ek hom tog oor sy camo-broek.

“Ek’s eintlik dikwels bekommerd oor hoe wit mense hulle gedra,” kap hy terug. “Dit gaan oor respek vir die mense om jou – maak nie saak watse kleur of watse godsdiens hulle beoefen nie.”

Dít kom sonder die geforseerde Amerikaanse selfvertroue wat in die video openbaar word.
In sy video praat De Wet direk met Warner Brothers soos ’n wafferse life coach.

“As actor and bodybuilder myself, I fully understand the hard work and dedication needed to be successful,” sê hy terwyl hy ’n paar houe in die lug moker.

“Success is all about giving your 100%, one hundred percent of the time. My goal in life is not only to be good. I wanna be great. But there will be no greatness without commitment.”

Waar kom al hierdie Dale Carnegie-agtigheid vandaan? vra ek. “Ek was nog nooit depressed nie,” sê hy.

“Ek staan soggens op en voel goed. Dit is deel van fiks wees en die liggaamsbou-kultuur.”

En dit is ook blykbaar wat hom onderskei van ander jong seuns wat vasgevang is in ’n kleindorpse ontsnappingsfantasie. “Baie mense dobber doelloos op die water rond. Ek glo in aksie. As jy iets wil hê, moet jy iets dóén om dit te bereik.”

En wat hý wil doen, is om die wêreld te verken.

“Ek is bereid om tot die onbekende oor te gaan. Ek weet ’n mens moet aanpas; saam verander as die wêreld om jou verander. Ek wil dit ervaar.”

Maar is daar nie beter maniere om jou geërfde swerwersdrang te bevredig as om met ’n bokvel in die bos rond te swaai nie? Daar’s tog makliker maniere om oorsee te gaan…

“Nee,” sê hy. “Ek wil ’n voorbeeld stel. Jong mense soek leiding. Ek wil mense bewus maak van die natuur en die gevare van skoorsoek met Moeder Aarde se wette. Dít kan ’n mens net doen as jy vir jouself ’n naam gemaak het.”

Maar wat is alles in ’n naam? Om in Tarzan se skoene te staan, is soms makliker gesê as gedaan. In ’n beboste gedeelte van die botaniese tuin, vra die fotograaf De Wet om sy hemp uit te trek. De Wet huiwer. “Die oorsese tydskrifte sal nie vir Tom Cruise vra om sy hemp uit te trek nie…”

“Hulle sal as hy Tarzan speel,” bied ek aan. Hy lyk sommer tevrede. Met die versoek dat hy ’n bietjie glimlag, sê hy: “Tarzan smile nie,” voor sy mondhoeke tog lig.

En iewers tussen hierdie uitdrukking, die losbandige selfvertroue en strokiesprent- fantasie, skrikwekkende verbetenheid en verbasend verfrissende onskuld, beskik De Wet seker oor die eienskappe om verder te vorder as die meeste van ons verlepte landgenote wat ’n mens deesdae raak drink.

Hel, miskien sal hy arme Tarzan se naam ook sommer in die proses in ere herstel.

 

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →