Haai-aanval ruk Plet

Die slagoffer van gister se noodlottige haai-aanval aan die Suid-Kaapse kus het Sondag grappenderwys aan vriende gese as hy eendag doodgaan, sal hy nie omgee as dit gebeur terwyl hy by Plettenbergbaai branderry nie. 

Mnr. Tim van Heerden (49) is omstreeks 09:00 deur vermoedelik ‘n grootwithaai by Lookout-strand in die Keurboomsriviermond aangeval. 

Dit het gister ook bekend geword dat Van Heerden, ‘n skrynwerker, ‘n afdag van sy werk gehad het nadat dit in die streek gereen het. Hy het besluit om sy afdag te gebruik om te gaan branderry. 

Volgens ooggetuies het hy pas klaar ‘n brander gery en het dieper die see ingegaan. 

Mnr. Charles Reitz, ‘n vriend, het vertel dat hy in ‘n nabygelee parkeerterrein gestaan het. 

Hy het gesien hoe die haai Van Heerden aanval. Hy het hom te hulp gesnel en uit die water gehelp. ‘Toe ek by hom kom, kon hy nie praat nie. Hy het wel geweet van my. Hy was baie, baie geskok en het baie bloed verloor.’ 

Volgens mnr. Deon Truter van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op Plettenbergbaai is hulle kort na 09:00 na die toneel ontbied. 

Van Heerden het ernstige bytwonde aan sy lies en bobeen opgedoen en het baie bloed verloor. Hy het by tye sy bewussyn herwin en verskeie pogings is aangewend om sy lewe te red. 

Hy is per ambulans na ‘n plaaslike hospitaal gebring, waar hy later dood verklaar is. 

Die strand is vir die res van die dag gesluit. 

Sover bekend is dit die eerste noodlottige haai-aanval in die gebied. ‘n Ondersoek word gedoen om vas te stel watter soort haai Van Heerden aangeval het. 

Mnr. Tim Clark, ook ‘n vriend, het gese omtrent ses branderryers was in die water. Van Heerden was die naaste aan die strand. Hy het ‘n geskree gehoor en gesien hoe Van Heerden van sy branderplank val. 

‘Hy het probeer opklim, maar is weer afgetrek.’

Me. Susan van Heerden, ‘n familielid, het gese hulle het kort na 10:00 van die voorval gehoor en is kort voor 11:00 van sy dood in kennis gestel. 

Sy het gese Van Heerden se pa, mnr. Nick van Heerden van Bloemfontein, is baie geskok. 

Volgens haar het Van Heerden die laaste paar maande op Plettenbergbaai gewoon en voor dit in Mosambiek en die Seychelle. Hy was baie lief vir die see en het geleef vir branderry. 

Teen gistermiddag is geen begrafnisreelings nog getref nie. 

Volgens dr. Sheldon Dudley, hoofwetenskaplike van die KwaZulu-Natalse Haairaad, byt haaie dikwels voorwerpe om uit te vind of dit moontlik ‘n prooi kan wees.

Verslagspan: Eugene Gunning, Michelle Pienaar en Jackie Kruger. 

– Die Burger

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →