Die Rheenendal-gemeenskap tussen Knysna en Sedgefield steier van skok ná moontlik die grootste busramp tot nog toe in die Suid-Kaap.
Altesaam 14 laerskoolkinders en hul busbestuurder het gister kort voor 08:00 verdrink nadat hul skoolbus in die stormwaters van Kasat se Drif beland het. Die ongeluk het op die Rheenendalpad sowat 20km wes van Knysna gebeur.
Een van die kinders is net ’n paar sekondes voor die ramp teen ’n bult op dié pad opgelaai.
Die bus behoort aan African Express en dit word aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement uitgekontrakteer. Die leerders is almal van die Primêre Skool Rheenendal. Die skool het altesaam 763 leerders.
Die bus het sitplek vir 33 mense en daar was minstens 56 passasiers in die bus. Die bestuurder was mnr. Colin Pyle.
’n Ma het al drie haar kinders van onderskeidelik 7, 9 en 15 in die tragedie verloor.
Twee tweelinge was ook onder die slagoffers.
Die bus het stilgehou om ’n kind op te laai toe die remme glo geweier en dit stadig agteruit geloop het.
Dit het enkele sekondes en sowat 30m verder oor die rand van die brug in die bruin waters van die rivier geval. Net die agterkant van die blou bus het uitgesteek.
Mnr. Johan Luiters, wat daar naby werk, het gesê hy het kort ná 08:00 opgedaag. Hy het gesien hoe van die kinders deur die bus se vensters probeer klim. Net 42 van die leerders kon die oewer bereik.
Reddingswerkers en noodvoertuie van Knysna en George het hulle na die toneel gehaas.
Duikers het die toneel gefynkam. Lyke is een ná die ander uit die water gebring en onder wit komberse langs mekaar op die brug geplaas. Die eerste lyke is kort ná 08:00 uitgehaal.
Ene Brett, wat nie sy van wou noem nie, het vertel hy het dadelik in die water gespring toe hy op die toneel aangekom het. Hy werk daar naby en ry elke dag dié pad.
Hy het een van die kinders uit die water probeer trek, maar die kind was ongelukkig reeds dood.
Hy het vertel daar was al vantevore ongelukke by dieselfde bruggie. “Dit is nie die eerste keer dat hier ’n ongeluk is nie, en ook nie die laaste keer nie.”
Namate nuus oor die ongeluk bekend geword het, het ’n groot groep ouers en belangstellendes saamgedrom op die toneel, wat deur die polisie afgesper is.
Bekommerde ouers het probeer vasstel of hul kinders onder die slagoffers was.
Die hulp van ’n ekstra swaar insleepvoertuig is later ontbied. ’n Groot hyskraan op die rooi insleepvoertuig het kort voor 12:00 daarin geslaag om die bus uit die water te trek. Die bus is kort daarna weggesleep en word by ’n onbekende bestemming deur die polisie bewaak.
’n Hoëvlak-ondersoek sal binnekort begin.
– Die Burger