Garden Route on a plate – Proe peusel perfeksie!

Francois Ferreira & Dario Soresi

September is die natuur se aankondiging dat Lente aan die bloei is, liefde in die lug is en swembroek seisoen om die draai is. Die winkels wil nie heeltemal al Boney M begin speel nie, maar hulle begin strategies en o, so opsetlik bokse vol Kersversierings in die gange los. ‘n Mens kan amper nie glo dat nog ‘n jaar einde se kant toe staan nie. 

Tyd vlieg en dit is soos een van my geliefde laerskool onderwysers, Mnr Meyer gesê het, “’n feit soos ‘n koei”. Daarom is dit van die uiterste belang om wat jy met jou dae doen te maak tel. Dit is dus verblydend om te sien dat die Tuinroete nogsteeds nuwe en interessante (om nie te praat van smaaklike) idees uitdink vir feesvier. Die Garden Route on a Plate smulpaap fees is die nuutste toevoeging tot die Lente se feeskalender en beloof om ‘n lek jou lippe af lekker geleentheid te wees vir die hele gesin om te geniet. 

Met van die Tuinroete se top restaurante en Suid-Afrika se beste wynplase wat aan die geleentheid deelneem, sal daar vir elke kosliefhebber ‘n happie wees om te eien as ‘n watertand wonderwerk. Die beste nuus is dat jy nie net een dis hoof te kies nie, want disse is in klein proehappies asook groot disse beskikbaar en jy kan proe, eet of peusel na hartelus. Kaartjies (R125) is in die vorm van ‘n boekie wat 50 kos/wyn bewyse bevat wat jy kan ruil vir happies, proesels en slukkies, alles in ‘n feesomgewing van tente, musiek en die “Cuisine du Terroir” wat Jamie Oliver se restaurant na ‘n kindertuin bakdag laat lyk. 

Vir die van ons wat nie ‘n hap kry aan die volksvreemde konkoksies van hedendaagse kookkuns nie is daar ‘n vreemd genaamde, dog vars bries antwoord op die penarie: Cuisine du Terroir. Dit is ‘n fees laning van tradisionele disse. Die naam beteken gewoon “kos van die aarde” en in die volksmond beteken dit pap en sheba, ertjiesop, melktert, roosterkoek, breyani, afval en nog talle lekkernye soos net ons Suid-Afrikaners kan. 

En vir die wat geprikkel is deur die vernuf van befaamde kosgurus soos Jamie en Nigella is daar ‘n spesiale bederf. Die Eden School of Culinary Art (waar ons eie glanskok Francois Ferreira wat die spatel in die hand het) gaan ‘n reeks werkswinkels in die hoof saal aanbied met top Suid-Afrikaanse chefs soos Karen du Plessis, Dario Soresi (La Locanda) en Francois Ferreira self vir die gehoor van die “tricks-of-the-trade” sal wys. Wynliefhebbers, moenie afgeskeep voel nie, want werkswinkels oor Brandewyn en Port word aangebied en wynmakers sal ook sessies aanbied oor die geheimenisse van wynmaak. 

Deelnemende restaurante sluit onder andere Transkaroo, Chef Alma, La Locanda, Top 2 Catering en The Rose in terwyl die meesleurende aromas van die huis van NLR wyne, Ladismith Wyne, Karusa en Barrydale Kelders. 

Die mondwater geleentheid vind op 16 en 17 September 2011 plaas en is vir seker ‘n moet op die “moeite werd” en die “moet nie mis nie” kalenders. Vir meer inligting, kontak gerus vir Francois Ferreira by Eden School of Culinary Art @ 044 884 0765 en kry solank jou palet reg vir ‘n smaakontploffing van sonop tot sononder.

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →