Oudtshoorn fietsryers se dood nie nalatigheid – hof

Tisha Steyn – Oudtshoorn 

Die man wat verlede jaar drie fietsryers op die Calitzdorp-pad raakgery het, kan nie vir hul dood verantwoordelik gehou word nie, is gister in die Oudtshoorn-streekhof bevind. 

Mnr. George Aspinall (60) is van roekelose en nalatige bestuur aangekla nadat sy bakkie op 8 Maart verlede jaar die fietsryers getref het toe hy ‘n tenkwa probeer verbysteek het. 

Mnre. Frank Nel (60) en Jan Eloff (72) en me. Magda van Lill (50) het op die toneel gesterf. 

‘Wat hier plaasgevind het, is nie nalatigheid nie’, het streeklanddros Mark van Wyngaardt bevind. ‘As ek ‘n besluit moes neem, met die ouderdom van die beskuldigde in ag geneem en die feit dat hy reeds die dood van die drie slagoffers op sy gewete het, sou ek hom nie aangekla het nie’. 

Die staat se vierde getuie en Van Lille se vriend van vyf jaar, mnr. George Fourie, het gister getuig dat hy iemand hoor roep het en opgekyk het. 

Hy het Eloff en Nel in die pad sien le. Hy self is van sy fiets afgestamp. Hy het na Van Lille begin soek en haar liggaam sowat 10m tot 15m verder in die bosse aan die kant van die pad gevind. ‘Dit was duidelik dat sy reeds dood was’, het hy getuig. 

Mnr. Willem Stapelberg, vir die verdediging, het aangevoer dat Aspinall op ‘n redelike wyse opgetree het. ‘Nadat hy sowat 15km teen 80km/h agter die tenkwa gery het, wou hy op ‘n stippellyn verbysteek. Hy het niks sien aankom nie en gemeen dit is veilig’.

‘n Redelike mens sal nie ‘n probleem om elke hoek en draai verwag nie, maar redelike kanse vat. ‘Om die bakkie se neus agter die tenkwa uit te steek was ‘n redelike besluit. Daar was nie ander verkeer nie, hy het niks gesien nie en aanvaar daar is niks op die pad nie’.

‘Die ding het baie vinnig plaasgevind. Die fietsryers het nie uit die hemel geval nie. Hulle was daar’.

 ‘Hulle het ook met ‘n taamlike spoed aangekom. Die remmerke wat begin waar die laaste slagoffer getref is, wys dat die beskuldigde nie eens tyd gehad het om te rem nie’. 

‘Dit was ‘n skielike noodgeval en daar was niks wat hy daaraan kon doen nie’. 

– Die Burger

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →