Volstruisvleis, behalwe dié van voëls van die Klein-Karoo, mag vanaf Oktober vanjaar weer na die Europese Unie (EU) uitgevoer word, sê die Volstruisbesigheidskamer (VBK).
Mnr. Anton Kruger, uitvoerende hoof van die VBK, sê hulle verwag dat uitvoer op 6 Oktober hervat sal word.
Hy sê hulle is baie verlig oor dié nuus. Die bedryf verloor sedert April vanjaar maandeliks sowat R108 miljoen omdat die uitbreking van die H5N2-virus, ’n vorm van voëlgriep, tot die opskorting van die uitvoer van volstruisvleis gelei het. “Die uitvoer kan dié verlies halveer,” vertel Kruger.
“Wat die Klein-Karoo betref, verwag ons om eers teen Desember meer oor uitvoerbesluite te hoor, veral ná die virus onlangs op nóg plase in die distrik gevind is,” aldus Kruger. Sowat 33 000 volstruise moes al op 33 plase van kant gemaak word.
Strenger maatreëls
Volgens Kruger sal strenger maatreëls nou op uitvoer van toepassing wees. “’n Bykomende toets moet gedoen word en die tydperk vir toetsing is verkort.”
Vroeër is slegs bloedtoetse gedoen, maar volgens die nuwe maatreëls moet bloedmonsters en deppers (swabs) geneem word van die diere wat vir die slagplaas geoormerk is. Die toetstydperk is van 28 dae tot 21 dae verkort.
“Dié vereistes gaan bykomende koste vir die bedryf meebring, maar dit is beter as wat die bedryf glad nie kan uitvoer nie,” verduidelik Kruger.
Ramphulp
Kruger sê intussen wag hulle op die Land Bank om oor hulp aan boere te besluit. Die bedryf het vroeër vanjaar aansoek gedoen om die eerste bedryf te wees wat tot ’n rampbedryf verklaar word.
As deel van dié aansoek het hulle die Land Bank gevra om boere te help met lenings teen laer rentekoerse as wat markgegewe is.
Volgens Kruger vorder die toepassing van die Departement van Arbeid se opleiding-afleggingskema in die Klein-Karoo goed. Boere wat hierom aansoek doen, ontvang hulp van die staat en werkers word nie in die ware sin van die woord “afgelê” nie.
Die boer moet wel die heeltydse werkers se pensioen- en mediese bydraes betaal, maar die staat betaal vir ’n tyd lank om die werkers te laat heroplei asook 75% van die werkers se salarisse.
Deur ALANI JANEKE
www.landbou.com