Dis lente. Hoe wonderlik.
Die son skyn weer. Heerlik.
Klere word al hoe minder en knapper en pype en moue al hoe korter. Probleem.
Die swembroekseisoen is om die draai en oral word daar ‘n oomblik langer voor die spieël gestaan en kyk na die ekstra ‘tubing’ wat iewers deur die winter ongemerk hulle verskyning gemaak het. Sug.
Tog is daar ‘n blikkie hoop. Wetenskaplikes het bewys dat dit beter vir jou gesondheid is om te peusel aan goeie kos. Diegene wat die afgelope naweek by Garden Route on a Plate gekuier het, het hierdie teorie eerstehands beproef en stem volmondig saam. Die eerste Garden Route on a Plate feestelikheid (eerder kostelikheid) is aangebied op die skoolgronde van die PW Botha College en van die Suid-Kaap se beste restaurante het uithaler peuselhappies voorsit vir ‘n ieder en ‘n elk om aan te proe.
Die geleentheid, uit die idée-resepteboek van immergewilde sjef en vermaaklikheidspersoonlikheid, François Ferreira gebore, is ‘n eerste vir die Tuinroete. Op die vraag “waarom ‘n peuselfees” antwoord François sonder om te aarsel: “peuselhappies is lig en verleidelik en smelt in jou mond terwyl die geure tango op jou tong. Dit is tog soveel meer opwindend as net eet. Met hierdie geleentheid het ons nie net mense bekendstel aan die ongelooflike verskeidenheid restaurante en talentvolle sjefs in die Suid-Kaap nie, maar hulle ook blootgestel aan iets meer as die alledaagse kos ondervinding. Dit gee die idée van kos en kook nuwe skop.”
Die restaurante het nie telleurgestel nie en het happies hemel aan gaste voorgesit, en besoekers het behoorlik gesmul aan van sout tot soet. Uithaler proesels is perfek gekomplimenteer deur wyn en port.
Vir die wat nie net self wou peusel nie, maar ook leer peusels voorberei en varieteite waardeer, is daar ‘n reeks werkswinkels aangebied deur vooraanstaande sjefs uit die area soos François Ferreira, Karin du Plessis van Unilever en Dario Soresi (La Locanda). ‘n Groot gunsteling was die pot-proe Vrydagaand, waar ‘n stampvol saal van potjiekosliefhebbers en nuuskieriges by die Eden School of Culinary Art aangemeld het om aan 6 verskillende meesterpotjies te proe.
Werksessies oor Brandewyn, Port en ook wynkultivars is ook deur bekendes in die industrie aangebied. By die werksessie oor Muskadel het entoesiaste die kans gekry om verskillende streke se muskadel te proe. Die gehoor was dit eens dat die Klein Karoo en Suid-Kaap se produk glad nie hoef terug te staan vir die meer gewilde wyn en soetwyn streke in ons land nie.
Proe het die afgelope naweek sy heerskappy bewys oor eet en die kuns van kos en wyn het weereens bewys dat die restaurante in die Suid-Kaap ‘n fees is vir enige smulpaap. Vir die wat dit gemis het, julle het vir seker uitgemis op ‘n verruklike koservaring. Pro(e)beer volgende jaar weer.
As Garden Route on a Plate een ding onomwonde bewys het is dit dit – local is vir seker nie net lekker nie, maar heerlik!