Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het sy kontrak met die busmaatskappy African Express gekanselleer.
African Express was verantwoordelik vir die vervoer van leerders van die Primêre Skool Rheenendal toe 14leerders en die busbestuurder op 24 Augustus in ’n busramp by Kasat se Drif gesterf het.
Me. Bronagh Casey, woordvoerder van die Wes-Kaapse ministerie van onderwys, het laat gistermiddag bevestig dat die kontrak gekanselleer is.
Sy het kontrakbreuk as die rede aangevoer. Daar is die naweek reeds begin met alternatiewe vervoerreëlings vir die 48 leerders wat geraak word.
Die nuwe reëlings maak voorsiening vir vier minibustaxi’s en vier bestuurders. Daar is die naweek gereël dat die ouers self die voertuie kon inspekteer.
“Die nuwe bestuurders is elkeen op hul nuwe roetes geneem en die betrokke oplaaipunte is aan hulle uitgewys,” het Casdey gesê.
Die nuwe reëlings het reeds van gisteroggend af gegeld.
Me. Suzette de Villiers, kringspanbestuurder vir kring4, het by navraag bevestig dat die reëlings reeds in werking gestel is.
Sy het gesê die leerders het gisteroggend vir die eerste keer met die bussies gery en alles het goed afgeloop.
“Die ouers is baie in hul skik.”
Dit wil voorkom of van die leerders nog steeds probleme ondervind om in ’n groot bus te ry. Hulle is egter gemaklik met kombi-tipe bussies.
Die nuwe reëling sal geld tot die einde van die kwartaal op 30September.
Mnr. Pravin Singh, eienaar van African Express, het bevestig dat die kontrak met die WKOD gekanselleer is.
Hy het reeds met sy regsverteenwoordiger gepraat en hy gaan teen die besluit appelleer.
Mnr. Robin Carlisle, Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, het gistermiddag aan Die Burger gesê agt van African Express se busse is van die pad gehaal en geskut.
Daar was bewyse dat hulle nie geskik was om op ’n openbare pad te ry nie.
Carlisle het verlede week TJ’s Vehicle Testing Station in George gesluit. Van African Express se busse is vroeër daar getoets.
Die eienaar van TJ’s, mnr. Eugene Labuschagne, het nog sewe dae om teen die sluiting te appelleer.
– Die Burger