’n Ondersoek na ongerymdhede in die staatsbeheerde oliemaatskappy PetroSA se korporatiewe-verantwoordelikheidsprogram is in sy afgelope boekjaar van stapel gestuur.
Dis die soveelste ondersoek na bedenklike bedrywighede by die maatskappy die afgelope dekade.
Volgens PetroSA se jaarverslag, wat Maandag in die parlement ter tafel gelê is, is lenings van sowat R1,2 miljard boonop in sy boekjaar tot einde Maart afgeskryf.
Mnr. Kaizer Nyatsumba, woordvoerder van PetroSA, kon by navraag nie sê wat die geldelike omvang van die jongste ondersoek is nie. Hy sê egter dit strek veel verder as die afgelope boekjaar.
PetroSA het in die afgelope vier jaar meer as R101 miljoen se maatskaplik verantwoordelike beleggings gedoen, volgens sy webwerf.
Nyatsumba het ten sterkste ontken dat mnr. Sipho Mkhize, vorige uitvoerende hoof, betrek word by die jongste ondersoek na ongerymdhede.
“Ek kan nie uitwei nie. Die ondersoek duur voort. Dit word tans deur die maatskappy se interne oudit- en risikokomitees gehanteer,” het hy gesê. In die jaarverslag word gesê ’n tugproses is reeds begin.
Mkhize is in Augustus verlede jaar ná ’n ondersoek en tugverhoor afgedank.
Die bevindinge van die ondersoek is nooit bekend gemaak nie, maar Nyatsumba het bevestig dat die ondersoek met beweerde bedrog verband gehou het.
Mkhize het sy skuldigbevinding teengestaan en ’n skikkingsooreenkoms is vroeër vanjaar aangegaan wat bepaal dat die redes vir sy afdanking nie bekend gemaak mag word nie.
Die maatskappy se sake is ook in 2003 ondersoek nadat hy betrek is by die olieskandaal, waar geld aan die ANC oorgedra is om die 2004-verkiesingsveldtog te help finansier.
Die groep het wel in die afgelope boekjaar ’n netto wins van R800 miljoen gemaak vergeleke met die verlies van R400 miljoen in die vorige boekjaar.
Die skuld in die boekjaar afgeskryf is, is R261,3 miljoen van die filiaal PetroSA Gryphon Marin wat onverhaalbaar is en ’n lening van R945,2 miljoen aan PetroSA Egypt.
Die afgelope boekjaar sal ook onthou word vir die R12,5 miljoen wat hy aan kaartjies vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi verlede jaar bestee het.
Nyatsumba sê die proses om ’n hoof aan te stel, sal na verwagting teen die einde van die jaar voltooi wees. Mnr. Yekani Tenza is in Julie as waarnemende uitvoerende hoof aangestel.