PetroSA sluit nog ‘n Chinese kontrak

PetroSA se jongste reeks ooreenkomste met Chinese oliemaatskappye – wat onder die grootstes van hul soort in die wêreld is – is positief vir Suid-Afrika se pogings om te sorg dat die ekonomie genoeg brandstof het, sê kenners van die oliebedryf. 

Die staatsbeheerde energiemaatskappy het Vrydag ’n memorandum van verstandhouding met die Chinese staatsoliegroep Sinopec gesluit, kort op die hakke van ’n soortgelyke ooreenkoms met een van Sinopec se filiale, die oliehandelaar Unipec.

Sinopec is tans vyfde op Fortune se lys van die 500 grootste internasionale maatskappye, met kontantreserwes van meer as $100?miljard, en noterings in Hongkong, Londen, New York en Sjanghai. 

Die ooreenkoms met Sinopec sal PetroSA na verwagting help met sy planne vir die bou van die Mthombo-raffinadery by Coega in die Oos-Kaap. Sinopec spesialiseer in olieraffinering en die vervoer en bemarking van petrochemiese produkte. 

Me. Dipuo Peters, minister van energie, was luidens ’n PetroSA-verklaring by die ondertekening van die memorandum van verstandhouding deur dr. Benny Mokaba, voorsitter van PetroSA, en mnr. Fu Chengyu, voorsitter van Sinopec. PetroSA is deel van die Suid-Afrikaanse sake-afvaardiging wat adj.pres. Kgalema Motlanthe op sy staatsbesoek aan China vergesel het. 

Peters sê die ooreenkoms bou voort op die strategiese vennootskap wat verlede jaar tussen Suid-Afrika en China gesluit is tydens pres. Jacob Zuma se staatsbesoek aan China.

Mnr. Anton Botes, leiervennoot vir die olie- en gasbedryf by die ouditgroep Deloitte, sê Sinopec is ’n geïntegreerde petrochemiese reus wat waarskynlik die grootste van sy soort in die wêreld is. 

“Hulle het op alle gebiede in die waardeketting geweldige vermoë, vaardighede en ’n internasionale voetspoor. Dit sluit eksplorasie, boorwerk, raffinaderye, verspreiding en kleinhandelverkope in.”

Volgens Botes is PetroSA se dilemma sy verantwoordelikheid om langtermyn-energiebronne te verseker om sy mandaat van brandstofverskaffingsekerheid na te kom.

Die bou van die Coega-raffinadery gaan egter geweldige druk op die stelsel plaas wat kundigheid, langtermynbronne en -kontrakte en infrastruktuurontwikkeling betref. 

Ander beperkings is die gebrek aan die nodige hulpbronne vir brandstofvervaardiging. Botes sê China, Brasilië en Suid-Afrika is almal olieverbruikende lande. Die nasionale oliemaatskappye soos Sinopec van China, Petrobras van Brasilië en PetroSA van Suid-Afrika deel dus dieselfde uitdagings, vrese en beperkings wat internasionale oliehandel betref. 

“As Suid-Afrika hierdie soort ooreenkomste met nasionale oliemaatskappye soos Sinopec en Petrobras sluit, word ons deel van ’n ‘magsbasis’ op ’n gebied wat ál belangriker gaan word.” 

Volgens Botes is die drie grootste voordele wat PetroSA uit dié potensiële samewerkingsooreenkoms sal kry die volgende: 

 – Regstreekse toegang tot kundigheid op die gebiede van die waardeketting wat PetroSA nog gaan betree (bv. ruolie-raffinering); 

 – ’n Geweldige sterk bedingingsmag in eksplorasie, ontginning en ruolie-aankope; en 

 – Potensiële toegang tot die regstreekse verkryging (deur Sinopec) van voltooide brandstofprodukte indien Suid-Afrika dít deel maak van sy uiteindelike strategie vir strategiese brandstofvoorsiening.

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →