GEORGE. – Lede van die Sentrale Sakekernkomitee van dié kan moontlik hul eiendomsbelasting van die munisipaliteit weerhou. Die geld kan dan in ’n rekening van ’n nuwe maatskappy betaal word om seker te maak dat dienste gelewer word en die opgradering van die middedorp plaasvind.
Dié moontlikheid is vervat in ’n brief wat mnr. Bes Bezuidenhout, voorsitter van die organisasie, namens sy lede aan die stadsraad gestuur het. Die organisasie verteenwoordig meer as 55 gebou-eienaars in die middedorp.
Die organisasie hou Woensdag om 10:00 ’n vergadering by die Fusion Lounge in Meadestraat. Terugvoering sal van lede verkry word en ’n finale besluit sal na verwagting geneem word. Belangstellendes is welkom om die vergadering by te woon.
Die Burger het ’n afskrif van die brief bekom.
Bezuidenhout skryf in die brief dat eiendomsbelasting wat deur die eienaars van geboue in die middedorp aan die stadsraad betaal word, aangewend moet word in die gebied.
“Dit moet nie gebruik word om ander dele van George te subsidieer wat nie bydraes lewer nie. Die middedorp gaan agteruit en ons verwag dat daar opgraderings behoort te wees om die sakekern te help stimuleer,” skryf hy.
Daar word versoek dat die brief op die volgende raadsvergadering op die agenda geplaas word.
Bezuidenhout het by navraag die brief bevestig. Hy het benadruk dit is nie ’n dreigement aan die stadsraad nie. “Die doel is om ’n verbetering van die betrokke gebied te probeer bewerkstellig.”
Die organisasie wil ook nie ’n konfrontasie met die stadsraad hê nie.
– Die Burger