Louis en Charl swoeg met hul setstokke; jag Aussie-paar

JOHANNESBURG. – Die Australiërs Richard Green en Brendan Jones het die Mission Hills-gholfbaan gister op die eerste dag van die tweejaarlikse Wêreldbeker-toernooi bloedneus geslaan – maar Suid-Afrika se twee verteenwoordigers het aansienlik meer gesukkel.

Die duo van Doer Onder pronk trots bo-aan die telbord danksy hul gekombineerde rondte van 61 (11 houe minder as baansyfer) wat sewe voëltjies en twee arende ingesluit het.

Hulle is twee houe voor Ierland se verteenwoordigers, die major-kampioene Rory McIlroy en Graeme McDowell, en die Skotte Stephen Gallacher en Martin Laird ná die eerste dag se beterbal-sessie.

Die Suid-Afrikaanse vaandel word gedra deur die major-wenners Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel wat voor die toernooi met reg as ’n baie gevaarlike span uitgesonder is, danksy hul goeie spelpeil van die laaste paar weke, hul hegte vriendskap en hul bewese vermoë as kombinasie.

Gister kon dié paar egter nie hul reputasie met ’n lae telling onderstreep nie. Hulle is sewe houe agter die Aussies ná ’n rondte van 68 wat vier voëltjies opgelewer het; en is in die gesamentlike 22ste plek.

Met drie dae oor in die kompetisie het die Suid-Afrikaners egter nog geen rede om boedel oor te gee nie. “Vier-onder is beslis nie uit die prentjie nie – ons is steeds daar,” het Oosthuizen gesê.

Schwartzel het saamgestem: “Ons het regtig goed gespeel vandag – dit wys net nie op die telbord nie.”

Die twee Suid-Afrikaners was inderdaad die hele dag goed tussen die bof en die setperk en het hulself heelwat kanse vir voëltjies gegee, maar kon dit nie op die setperk laat tel nie.

“Ons sukkel net ’n bietjie om die setperke te lees,” het Oosthuizen verduidelik.

Vandag se ronde sal in beurtspel-formaat plaasvind en Schwartzel en Oosthuizen glo dít is waar hul kennis van mekaar werklik sal wys.

“Vandag (gister) was vier-onder waarskynlik die swakste telling wat ons kón aanteken, maar as ons die bal in die beurtspel-sessie so kan aanhou slaan, kan ons maklik iets soos sewe-onder aanteken,” het Schwartzel gesê. “Ons albei slaan die bal goed, so as ons net die lyne op die setperkkanvind,kanons skade aanrig.”

Oosthuizen het dit beaam: “Ons speel amper elke oefenrondte saam en ken mekaar se gholf. Wat afstand betref, is ons baie eenders, so ons sien uit na môre (vandag).”

– Die Burger

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →