Deur AMELIA GENIS
Verreweg die grootste kanola-oes nóg is vanjaar in die Suid-Kaap behaal, wat opbergingsruimte onder druk geplaas het.
Die groot kanola- en garsoeste stel ewe groot eise aan silo-eienaars vir opberging en die twee verwerkers wat die enigste kopers daarvan is.
“Die oes is 45% groter as verlede jaar se oes en oortref ons vorige grootste oes van 44 000 ton met meer as 10 000 ton. Ons het tot dusver net meer as 56 000 ton ontvang en verwag dat die totale inname 57 000 tot 58 000 ton gaan wees,” sê Mnr. Kellie Becker, besturende direkteur van Soill (Southern Oil Ltd.) op Swellendam.
Hy meen die groot graanoes wat vanjaar in dié streek behaal is, het die opbergingsruimte meer onder druk geplaas as wat dit hul vermoë om groter hoeveelhede te verwerk, beïnvloed het.
Groter produksie
“Ons is reg om die oes te verwerk en is besig om onsself te posisioneer vir selfs groter produksie ten opsigte van ons vermoë om kanola op te berg, te hanteer en te verwerk.”
Na gelang van watter opsie ’n boer gekies het, is die finale prys vir kanola vanjaar R3 950/t en die vaste prys of minimum prys R3 800/t. Mnr. Leon Groenewald, voorsitter van die Suid-Kaapse en nasionale garsbedryfskomitees, sê hulle het nog nie die finale oessyfers vir gars nie, maar meen ook dat vanjaar se oes aansienlik groter gaan wees.
SABMiller, eienaar van die enigste plaaslike vermoutingsaanlegte, het vanjaar sy mandaat van 150 000 ton moutgars verhoog tot 185 000 ton deur invoerkontrakte te beeindig, dog dit het sy kapasiteit versadig.
Groenewald sê hulle sal nou eers moet vasstel hoeveel moutgars daar bo dié mandaat is voordat die volgende stappe gedoen word. Hy kan wel sê dat hulle voor oestyd al ’n “plan B” gehad het. Lees meer in dié week se Landbouweekblad.
5 Desember 2011