Daar is moontlik lig aan die einde van die tonnel vir die volstruisbedryf met gunstige toetsuitslae wat hoop aan boere in dié bedryf gee.
Die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK) het in ’n persverklaring bekend gemaak dat die sewende toetsronde vir die H5N2-virus sedert April verlede jaar in die Klein-Karoo-vallei, negatief was.
Dalk die einde
Volgens die SAVBK is dit die eerste van twee negatiewe toetsrondes wat vereis word voordat die einde van die huidige uitbreking verklaar kan word.
“Ons bedank graag die beamptes van die nasionale sowel as die provinsiale departement van landbou vir hul harde werk om hierdie siekte volgens internasionale vereistes te hanteer,” sê mnr. Anton Kruger, die hoof uitvoerende beampte van die SAVBK.
Die volgende ronde toetse sal op 1 Februarie begin en die uitslae word teen einde Februarie verwag. Indien dié toetse negatief is, kan die einde van die uitbreking verklaar word.
Dankbaar
Die SAVBK het sy waardering teenoor die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en min. Tina Joemat-Petterson uitgespreek vir die bykans R50 miljoen wat volstruisboere ontvang het vir hulle skade weens die uitbreking.
“Ons besef dat hierdie ’n komplekse siekte is om te beheer, veral omdat volstruisboerdery ekstensief in die buitelug is, maar internasionaal as pluimvee gesien word,” sê Kruger.