Volstruis-uitvoer weer vertraag

Die uitvoer van volstruisvleis na die Europese Unie sal met ‘n verdere drie maande vertraag word nadat die H5N2-virus weer in die Klein-Karoo kop uitgesteek het.

So sê dr. Botlhe Modisane, hoofdirekteur van diereproduksie en gesondheid by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Die volstruisbedryf is verlede jaar verlam weens die uitbreking van dié virus op ‘n plaas naby Oudtshoorn.

Modisane het aan die Parlement se portefeuljekomitee oor landbou, bosbou en visserye gesê dat die plaas waar die virus verlede week gevind is, binne die kontrolegebied is.

Hy het gesê buitelandse wetenskaplikes het evaluerings oor die situasie kom doen en veral gekyk na hoe die siekte beheerkanword. Hulle sal later die week ‘n verslag daaroor aan die departement gee.

Digtheid van volstruise

“Van die bekommernisse wat ons het, is dat die digtheid van die volstruise in die gebied te hoog is.” Modisane het voorts gesê dat die bedryf daarna sal moet kyk om sy boerderypraktyke in die gebied te verander.

Die bedryf is baie kompleks. Dagoud kuikens word van die broeigebied na plase verskuif waar hulle grootgemaak word. Hulle word in ‘n voerkraal gesit en dan weer verskuif om geslag te word, het hy gesê.

Modisane het gesê daar is groot kommer omdat die H7N1-virus buite die kontrolegebied uitgebreek het. Landbouweekblad het vroeër berig dat volstruise op ‘n groot volstruisplaas naby Heidelberg in die Wes-Kaap positief vir die hoogs aansteeklike H7N1-voëlgriepvirus getoets het.

Deur JOYLENE VAN WYK

29 Februarie 2012

Share Button
,

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →