Evans laat trappers stof sluk

PNIEL. – ’n Ligte mis Saterdag en effe bewolkte weer gister was ’n lafenis vir bergfietsryers wat die naweek deelgeneem het aan twee uitdagings wat by Boschendal geëindig het.

Gister se Cape Argus Pick n Pay Bergfietsuitdaging oor ’n nuwe roete van 65km is deur ­Kevin Evans gewen.

Hy het Christoph Sauser, in die tweede plek, en Jacques Rossouw, wat derde was, stof laat sluk.

Evans was verheug dat hy op sy “teleurstellende vertoning” in Saterdag se Columbia Grape Escape kon verbeter.

“Aangesien dié resies die bergfiets-ekwivalent van die Argus-fietstoer is,kanek nou sekerlik sê ek is die bergfietspretren-wêreldkampioen!”

Burry Stander, gesamentlike wenner van die Columbia Grape Escape Saterdag, het gister teëspoed met ’n gebreekte ketting opgedoen.

Ariane Kleinhans, die eerste vrou wat die 65km-wedren kon voltooi, moes haar storie ken teen Catherine Williamson, wat tweede was.

Meer as 2 000 ryers het aan die drie verskillende renne deelgeneem. Jurgens Uys was eerste oor die wenstreep in die 52km-uitdaging vir mans, en Nicola Giliomee het die vroue-afdeling gewen.

In die 32km-wedren het Sybrand Strauss en Lolita van Aardt in onderskeidelik die mans- en vroueafdeling geseëvier.

)Saterdag, die finale dag van die Columbia Grape Escape, het die Songo-Specialized duo van Stander en Sauser as wenners in die mansafdeling uit die stryd getree.

Die twee Bulls-spanne het die tweede en derde plek ingeneem nadat die verdedigende kampioene, Evans en David George van Nedbank 360Life, midde-in die derde skof weens meganiese probleme onttrek het.

Stander het ná dié rit gesê: “Ek en Christoph kry seldekansom saam te oefen, so die Grape Escape was ’n gulde geleentheid vir ons om vir die Absa Cape Epic – wat later die maand plaasvind – voor te berei.”

’n Uitstekende vertoning deur Hanlie Booyens en Jane Seggie van die Cape Argus-vrouespan het hulle die kroon in dié kategorie besorg.

Die egpaar Erik en Ariane Kleinhans het saam die gemengde kategorie maklik gewen.

Die Switserse bergfietsryer Ralph Naf het die enkel-kategorie vir mans oortuigend gewen in die vinnigste tyd van die dag, en die wenstreep meer as ses minute voor sy naaste teenstander, Jacques Rossouw, oorgesteek.

– Die Burger

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →