Plaasmoord in George skok

Die landbougemeenskap van die Wes-Kaap is diep geskok oor die moord op ’n 64-jarige boervrou van George, sê Agri Wes-Kaap.

Me. Porchia Adams, woordvoerder, beskryf die aanval op me. Charlotte Froneman en haar man as “sinneloos”. Sy sê wat veral ontstellend is, is dat die verdagte so jonk is.

Luidens ’n berig op Nuus24.com sal ’n 16-jarige seun vandeesweek vir Froneman se moord in die hof verskyn. Sy is glo Saterdag (7 April 2012) herhaaldelik met ’n skerp voorwerp in die bors gesteek in ’n mislukte rooftog op die plaas Dagbreek buite die stad. 

Froneman se man het die verdagte glo verskeie kere geskiet, en die jeugdige is tans in die hospitaal.

Ernstige vrae

Volgens Agri Wes-Kaap laat die tiener se optrede ernstige vrae oor die land se jeug en wat hulle motiveer om sulke gruweldade te pleeg. Die organisasie meen dat landelike veiligheid onder die soeklig geplaas moet word, veral weens die tempo waarteen misdaad op die oomblik plaasvind.

“Agri Wes-Kaap is bekommerd oor die morele verval van ons samelewing.  Misdaadbekamping is ’n gesamentlike verantwoordelikheid van alle betrokkenes om oplossings te soek vir die sosiaal-maatskaplike probleme in ons land,” aldus die organisasie.

Adams sê Agri Wes-Kaap betuig sy medelye met die Froneman-familie en die landbougemeenskap wat deur dié misdaad geraak is.

Intussen sê kapt. Adele Myburg, woordvoerder vir die Polisie in Noordwes, hulle soek steeds na verdagtes ná die moord op die 68-jarige mnr. At van der Merwe van Bloemhof. Van der Merwe is verlede week op sy plaas, Leeubos, gevind. Hy is deur aanvallers geskop en geslaan en het weens verskeie beserings aan sy kop op die toneel gesterf.

Bron: Nuus24.com

Share Button
,

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →