Plaasstories vir ‘ie siel – nuwe Suidkaap kontreiboek

Dalene de Bruyn Joubert

Die agterblad val sommer met die staldeur in die kallerhok: Op die vlakte met sy hier en daar se kalkrante tussen Riversdal en Jongensfontein hoef g’n mens ’n storie op te maak nie. Stories gebeur hier vanself net vir oorvertel. Die verteller lieg nooit, behalwe as jy nou nie kan saamstem met die storie nie; dan stêk jy daardie storiehopie in sy mate net soos hy behoort te gewees het.

Dis presies nes hierdie stories in die lewe begin kom het …so vertel skrywer Dalene de Bruyn Joubert wat self op Riversdal gebore is en gematrikuleer aan die Hoërskool Langenhoven.

Net soos in die fliek Australia, kan ‘n mens Plaasstories vir ‘ie siel as volg omvat: ‘n Meesal grootmenswêreld se stories deur die oë van kontreikind Dantjie gesif en oorvertel.

Die storiegedoentes kry gedaantes in drie kortverhaalbundels waarvan die eerste, Plaasstories vir ‘ie siel, in Maart 2012 verskyn. Die ander twee wat volg is Dantjie word wys en Plaasstories – die steentydperk.

Die karakters: almal uit die Suidkaap se hout gesny, eie aan die kontrei, en eg en getrou aan hulleself. Mense wie Dantjie en jy as leser dalk ook goed geken het of nog steeds ken …? En miskien sien nog iets van jouself raak.

In die eerste bundel praat Dantjie uit die kallerhok oor werfsake – uit die vuis uit.

Sonder seremonie nooi sy die leser op haar kontreipad en lewenspad saam en maak jou op haar werf staan. Doekies draai sy nie om nie. Waar nodig, spyker sy ‘n boodskap op die stam van haar storieboom om die storiespyker vir goed op sy kop te slaan. Die posboom van die kontrei het nie verniet op hulle plaas gestaan nie.

Die inhoud vat sy saam met hierdie Boombeeld:

Onder die posboom op my Arrie-se-kraal hang ’n geroeste outydse skaal.  Vir maaifoedies lê ’n slagyster gestel uit ’n ietwat vorige bestel.  Agter my seil ’n slang in die gras verby.  ’n Verneukery?  Sê jy?  Sie jy!

In die tweede bundel praat Dantjie uit die huis uit. Pasop dan!

Ons kry ‘n kykie in haar binneste kontrei of soos sy dit noem, haar dinkgoedgeit, en alles wat daardie kontrei vir haar so spesiaal maak. Die potkleigat waar sy en Kinnie speel as Pa en Ma skape in die pad oppas, word metafoor van haar lewensleerskool. Hier wei sy tussen haar eie stories en kattestrofies waaruit sy moet leer om die goede van die kwade te begewe en as groot Dantjie rats deur die lewe te kan kom. Maar mens kan naend weer vergeet wat jy geleer het …

Die derde bundel kyk Dantjie verder terug as wat sy self in lewende lywe was en praat uit haar voortyd uit. Sy doen dit deur die kykers van een van die geplante kontreimense, Boet. Partykeer pak ander bekende kontreimense ook saam aan die storiemuur. Laag vir laag word dit gepak en soos met die lê van party klip in die hartselemente oor tyd, word dit geweer en geslyp tot dit lyk (soos) halfedelstene vir die latere geslagte.

“Ekself, my werklikheid en my verbeelding het eenvoudig gaan sit en saam die stories beginte neerpen,” skerts Dalene verder. “Partykeer het ons wysneusig ‘n storie teen mekaar afgespeel en ons laat lei deur die een van ons met die sterkste persoonlikheid op daai oomblik.

“Van die plekke wat Dantjie besoek, as spesiale spoorstories gekaart en gevoetmerk deur die boek : Blombos se duineveld  en Haaibaai by Jongensfontein. Jan Fiskaal hou eenkeer doelbewus sy hoed op in Stilbaai se kerk! Ons maak ’n draai op Bouwerskloof en kuier buite Albertinia. Dan op die Ruenswêreld, in Struisbaai en op Melkhoutkraal by Dantjie in die kallerhok waar sy in die beesmis lê nadat sy van die gladde kraalmuur afgeval het, omdat sy nie wou hoor: ‘Dantjie, bly af van daai nat kraalmuur af!’ nie.”

Kuier intussen saam met haar en Dantjie op die werf www.dantjie.co.za

Dantjie kwetter ook gedurigdeur op haar Twitterblad @plaasdantjie. Vat haar spoor daar en bly op hoogte van werfsake.

Om “Plaasstories” te bekom, doen gerus navraag by jou naaste boekwinkel.

Of bestel sommer nou reeds die boek aanlyn by www.benedic.co.za

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →