Johannesburg. – Die getal besoekers aan die Tuinroete neem stelselmatig toe, hoewel dié gebied soos die res van die land nog nie weer die hoogtepunte van voor die resessie bereik het nie.
Billy Engelbrecht, voorsitter van Gartour, die private bemarkingsinisiatief vir die Tuinroete en die Klein-Karoo, sê sowat 525 000 oorsese besoekers het Suid-Afrika in die vierde kwartaal van verlede jaar besoek. Altesame 65% van dié toeriste het die Wes-Kaap besoek.
Van laasgenoemde groep het sowat 45% ook ’n draai in die Tuinroete gemaak.
Engelbrecht sê die gebied se toeristebasis is redelik gelykop verdeel tussen internasionale en plaaslike besoekers.
Europa is steeds die grootste internasionale mark en die gebied lok tussen September en April besoekers van veral Duitsland, Frankryk, Engeland en die Skandinawiese lande.
Engelbrecht sê hoewel die wintermaande tradisioneel stiller is, was daar die afgelope tyd ’n toeloop van Indiese reisigers.
Dié toeriste is oor die algemeen baie avontuurlustig en hou van adrenaliengedrewe aktiwiteite soos haaihokduik, vryval uit ’n vliegtuig (“skydiving”), rekspronge en volstruisry.
Engelbrecht meen belangstelling uit dié mark is ’n voortvloeisel van SA Toerisme se pogings om Suid-Afrika in die Ooste te bemark en die feit dat die land ’n paar jaar gelede gasheer vir die Indiese Premierliga was.
Hoewel die Tuinroete, volstruisplase en die Kangogrotte onder die gewildste plaaslike toerismebestemmings tel, moet die gebied in baie gevalle met Kaapstad meeding om toeriste se tyd in Suid-Afrika.
Die besluit van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) om sy regstreekse vlug tussen Kaapstad en Londen te staak, is ’n groot slag vir die gebied en daar word verwag dat besoekerstalle uit Brittanje sal daal.
In dié verband sê René Bongers, ondervoorsitter van Gartour, sal dit goed wees as die SAL sy vluggleuwekanafstaan aan ’n ander lugdiens of vlughuurgroep wat bereid sal wees om dié roete te bedien.
Die gebrek aan mededinging wat binnelandse vlugte na die George-lughawe betref, benadeel reeds die gebied omdat dié vlugte oor die algemeen betreklik duur is.
Engelbrecht sê die gebied bly gewild onder plaaslike besoekers en hoewel gaste ná die resessie geneig is om korter te bly, is daar heelwat gratis uitstappies wat gesinnekanonderneem.
Bron: Sake24