Taakspan aangestel om oplossings vir die volstruisbedryf te vind

KAAPSTAD. – ’n Taakspan is aangestel om oplossings vir die “ernstige krisis” in die volstruisbedryf in die Wes-Kaap te vind.

Die uitvoer van volstruisvleis uit Suid-Afrika is 18 maande gelede gestaak.

Altesaam 50000 volstruise is sedert die uitbreek van die H5N2-virus (voëlgriep) op plase in die Klein-Karoo van kant gemaak.

Belanghebbendes in die bedryf – waaronder die Volstruisbesigheidskamer, veeartse van die nasionale en provinsiale departemente, dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye, en Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou – het verlede week oor die probleem vergader.

Van Rensburg het gister aan Die Burger gesê daar word reeds 18 maande gesukkel om die virus onder beheer te kry.

“Die reëling tot dusver was dat waar diere op ’n plaas positief vir voëlgriep getoets word, al die diere van kant gemaak moet word. Die boere word vir die verlies vergoed.”

Volgens hom het die staat reeds R60miljoen aan boere betaal.

“Ná 18 maande moet ons vra: Werk dié optrede of nie? Ons kry steeds positiewe toetse, wat die vraag laat ontstaan of die virus net tot volstruise beperk is,” het Van Rensburg gesê.

Mulder, wat die situasie as ’n “ernstige krisis” bestempel het, het verduidelik dat die gebied vir drie tot vier maande skoon moet wees van die virus voordat uitvoerbedrywighede hervatkanword.

“Ons volg die reëls, maar elke keer gebeur dit so dat die virus weer uitbreek voordat die tydperk om is. Die groot vraag is: Wat is die rede hiervoor?

“Ons aanvanklike plan om die voëls van kant te maak, blyk dus onsuksesvol te wees. Ons gaan egter nie dadelik van dié plan afsien nie en sal steeds besmette diere van kant maak.

“Intussen is die ander moontlikheid om die geaffekteerde gebied te soneer om die virus in kleiner gebiede te beperk. Inenting is ook ’n opsie.”

Piet Kleyn, waarnemende voorsitter van die SA Volstruisbesigheidskamer, het gesê die bedryf ervaar “moeilike tye.”

Die alternatief is om die binnelandse mark uit te brei. Die produksie van hitte-behandelde vleis, wat veilig vir uitvoer is, is ook verhoog. Hy het benadruk dat die vleis wat in Suid-Afrika beskikbaar is, veilig is en van gesonde diere afkomstig is.

– Die Burger

Share Button
,

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →