Rade betaal miljoene

KAAPSTAD. – Hoewel die ouditeur-generaal nie juis beïndruk was deur Wes-Kaapse munisipaliteite se finansiële verslagdoening vir die 2010-’11-boekjaar nie, het munisipale bestuurders altesaam R2313988,88 as prestasiebonusse ontvang, en finansiële hoofde R1707301,16.

By sommige munisipaliteite is egter geen prestasiebonusse betaal nie.

Dít blyk uit Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, se antwoord op ’n parlementêre vraag van die ANC-LPP Pierre Uys.

Die munisipale bestuurder van Laingsburg, wat ’n gekwalifiseerde ouditverslag gekry het, het ’n bonus van R99721 gekry, terwyl die munisipale bestuurder en finansiële hoof van Swartland, wat ’n skoon oudit gekry het, geen prestasiebonus ontvang het nie. Hul vergoeding maak egter voorsiening vir ’n dertiende tjek.

Die Weskus-distriksmunisipaliteit, die enigste ander munisipaliteit wat ook ’n skoon ouditverslag gekry het, het ’n bonus van R48216 aan sy munisipale bestuurder en R33951 aan sy finansiële hoof betaal.

Die ander twee munisipaliteite wat gekwalifiseerde ouditverslae gekry het, die Overberg-distriksmunisipaliteit en Prins Albert, het nie prestasiebonusse betaal nie.

In die Overberg-distriksmunisipaliteit het prestasiebeoordeling nie plaasgevind nie, omdat tugprosesse aan die gang was, en Prins Albert het geen munisipale bestuurder of finansiële hoof gehad nie.

Die drie munisipaliteite wat nie hul finansiële state ingedien het nie, Kannaland, Oudtshoorn en Swellendam, het ook nie bonusse betaal nie.

In Kannaland was die poste van munisipale bestuurder en finansiële hoof ook vakant, terwyl Swellendam se stadsraad besluit het om nie prestasiebonusse te betaal nie.

Oudtshoorn se munisipale bestuurder en finansiële hoof het alles-insluitende vergoedingspakkette.

Bredell het gesê die departement van plaaslike regering het nie ’n beleid wat prestasiebonusse reguleer nie, maar hy het ’n omsendskrywe uitgestuur waarin munisipaliteite aangemoedig is om nie prestasiebonusse te betaal aan werknemers wat aan prestasiebestuursregulasies onderworpe is nie.

– Die Burger

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →