’n Rekordgetal broeivoëls is op die negende volstruisveiling op die Oudtshoorn-navorsingsplaas te koop.
Die Wes-Kaapse departement van landbou se Oudtshoorn-navorsingsplaas bied weer vanjaar ’n volstruisveiling van jong broeivoëls op 10 April aan.
Vanjaar se veiling is die grootste nog (nagenoeg 250 voëls) omdat daar nie verlede jaar met die voëlgriep-krisis ’n veiling moontlik was nie.
Die jaarlikse produksieveiling van jongvoëls poog om aan volstruisprodusente die geleentheid te gee om beter genetiese materiaal vir hulle kuddes te bekom. Die diere word met individuele teeltwaardes vir liggaamsgewig, eierproduksie en kuikenproduksie aangebied. “ ‘n Teeltwaarde is die beste voorspelling van ’n dier se potensiaal as ’n ouer van die volgende geslag,” verduidelik prof. Schalk Cloete, spesialiswetenskaplike verbonde aan die departement.
“Dit verskaf inligting om ’n potensiële teeltdier met sy tydgenote te vergelyk, en gee dus ‘n aanduiding van die intensiteit van seleksie wat bewerkstellig kan word. Inligting vir die voorspelling van sulke teeltwaardes word van alle diere wat verwant is aan die spesifieke dier wat vir seleksie oorweeg word, bekom”.
Gemeenskaplike neste
Die meerderheid broeivoëls wat vir kommersiële volstruisproduksie gebruik word, word in troppe met ‘n mannetjie:wyfie verhouding van ongeveer 6:10 aangehou. In trop-paringstelsels maak die volstruise gebruik van gemeenskaplike neste, waarin meer as een wyfie eiers lê. Dit is dus feitlik onmoontlik om individuele reproduksie en ouerskap in so ‘n trop te bepaal.
Daar is deur navorsing bewys dat eierproduksie tussen verskillende volstruiswyfies baie verskil en kan wissel van 0 tot 120 eiers per wyfie vir ‘n bepaalde broeiseisoen. Daar is dus baie wyfies wat min eiers tot geen eiers bydra tot die totale opbrengs. In ‘n tropsituasie is dit onmoontlik om sulke wyfies te identifiseer en uit te skot. Dit veroorsaak dat hulle teen ‘n hoë koste onderhou word, sonder om ‘n inkomste te lewer. Verdere navorsing het aangetoon dat reproduksie en groei by volstruise oorerflik is. Vordering in hierdie eienskappe is dus moontlik met doelgerigte seleksie, soos bevestig deur navorsing wat op die Oudtshoorn navorsingsplaas gedoen is.
Die Departement hoop om met hierdie veiling en puik genetiese materiaal die volstruisbedryf weer opnuut stukrag te gee na die onlangse voëlgriep krisis en nooi alle belangstellendes uit om die veiling wat om 10:00 begin, te kom bywoon.
Belangstellendes kan vir Zanell Brand 044-272 6077 of zanellb@elsenburg.com kontak vir meer inligting