75ste Bestaansjaar van die Percheron Genootskap van Suid – Afrika

Waar die 75ste bestaansjaar van die Percherontelersgenootskap van SA vanjaar gevier word, word met genoegdoening teruggekyk na sy rol as rigtinggewende vlagskip wat die bedryf deur tye van voorspoed en krisisse moes stuur. Toe dit enkele jare gelede nog deur sy moeilikste vaarwaters gegaan het, was dit juis deur bemiddeling van hierdie organisasie dat die huidige era van die hernude gewildheid van die ras betree kon word.

Chester Williams ontvang Gedenkuitgawe van Johan van der Merwe, President Percheron SA
Chester Williams ontvang Gedenkuitgawe van Johan van der Merwe, President Percheron SA

Die Genootskap is op 26 Mei 1939 gestig en het met ‘n ledetal van 23 begin. J.H. Bosch was die eerste voorsitter. Toe dit op 23 Augustus by die SA Stamboek geaffilieer is, was daar reeds vyftig lede. Dit het onder meer die Landboukolleges Grootfontein, Glen en Elsenburg ingesluit. Oor ongeveer die eerste drie dekades het onderskeidelik F.J. van Zyl, B. Kasselman, W. Naudé en D. Potgieter as daaropvolgende voorsitters gedien.

Chester Williams, Tennessy Cauvelliere en  Johan Henning (sekretaris)
Chester Williams, Tennessy Cauvelliere en Johan Henning (sekretaris)

Vir baie jare (tot in 1982) het die legendariese Piet Naudé van Overhex, buite Worcester, hierdie posisie met groot onderskeiding beklee. Frans  Badenhorst van Venterstad het Naudé opgevolg en hy het die septer as voorsitter vir 22 jaar lank (tot in 2005) geswaai. Hierdie was uiters moeilike tye, onthou Lettie Kruger, wat vanaf 1963 tot vroeg in hierdie eeu sekretariële dienste vir die genootskap gelewer het.

Voorblad van die gedenkuitgawe
Voorblad van die gedenkuitgawe

Nuwe vooruitsigte het egter gewink. Toe  Johan van der Merwe, kleinseun van die alombekende Albertus Hanekom van Elsenburg,  die leisels van die Genootskap oorgeneem het, is drastiese stappe gedoen om die bedryf weer op koers te kry. Daar is veral gepoog om die teel van diere van die ras, wat oor jare al hoe kleiner geword het, weer na normaliteit te laat terugkeer. Ook het groter bemarkingsaksies gevolg en mikroskyfies het brandmerk vir die identifisering van perde vervang.

Sedert Jan Engelbrecht van Pretoria vier jaar gelede tot president is, is die administrasie van die Gnootskap opgeskerp en die hersiening van die grondwet is verlede jaar voltooi. Die ledetal wissel nou ook weer rondom ‘n aanvaarbare dertigtal.

Die afsluiting van die 75ste Bestaansjaarvieringe van die Genootskap in die hart van die Overberg is behartig  deur Summerwind Stoet met ‘n uitstalling van die Franse Percheron hings, Tennessy Cauvelliere.

Die hoogtepunt van die feesjaar was die media bekendstelling van die Genootskap se 75 Jaar Gedenkuitgawe. Chester Williams, voormalige WP rugbyspeler het die eerste eksemplaar van Johan van der Merwe in ontvangs geneem.

Die Wes-Kaap Percheron veiling is in samewerking met BKB in die Santam ouditorium op Vrydag 19 September 2014 aangebied. ‘n Reunperd (Montago’s Davy) is verkoop aan LINE Boerdery, Ottery vir R35000.00, twee merries van die Elsenburg Stoetery onderskeidelik aan Mnr. Daan du Toit van Caledon, Elsenburg Leila vir R25000.00 en en Mnr. Louis Gertenbach van Pretoria, Elsenburg Minda vir R40000.00.

Tydens die Genootskap se Algemenejaarvergadering is Johan van der Merwe van Paarl verkies as president,  Louis Gertenbach  van Pretoria  as vise-president, Sampie Marais van Heilbron, Lettie La Gange van Graaff-Reinet as raadslede  en  Johan Henning  as sekretaris .

Die galafunksie van die Genootskap is gehou op 20 September 2014 te Windmeul Kelder, Agter-Paarl. Vyf Percheron pioniers is tydens die geleentheid in postuum vereer vir hul onbaatsugtige bydrae tot die percheron bedryf nl.  Piet Naude, Bennie Lesch,  Albertus Hanekom, PJ van der Merwe en Jan September. Hennie Basson, vryskut joernalis en voormalige Vrystaatse  Redakteur van Landbouweekblad, is ook tydens die geleentheid vereer.

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →