George (3 Februarie) – Die Suid-Kaap Oumotorklub se jaarlikse George Oumotorskou wat op 14 en 15 Februarie aangebied word, is ‘n belangrike ekonomiese inspuiting vir die dorp.
“Die meer as 11 000 besoekers wat jaarliks die George Ou Motorskou bywoon, dra nie net by tot die ontwikkel van die George Toerismebedryf nie, maar lewer ook ‘n belangrike finansiële bydrae tot ons dorp se ontwikkeling en daarom lewer die George Munisipaliteit sy steun aan hierdie geleentheid,” sê rhr Charles Standers, burgemeester van George. “Die skou skep ook werksgeleenthede wat bydra tot volhoubare maatskaplike transformasie.”
Ter ondersteuning van die skou wat vanjaar meer as 1000 items op die skoolterrein van die PW Botha Kollege vertoon, het die George Munisipaliteit kontant geskenk en die Suid-Kaap Oumotorklub kwytgeskeld van heffings wat gewoonlik vir sulke geleenthede gevra word.
Silver Fox Promotions het vanjaar aan boord gekom as ‘n borg. Ander borge wat die grootste motorskou in die Suidelike Halfrond moontlik en aangenaam maak, sluit Protea Hotels in wat nie net die toeskouertent borg nie, maar ook toegang vir uitgesoekte persone.
SA Brouerye bring opnuut hul kant met die borg van die vergrootte biertent en die inhoud daarvan en bied die drank aan teen kosprys.
Die House of Classic & Sports Cars van Knysna, wat op 14 Februarie die veiling van Noag- en Klassieke motors aanbied, het besluit om die koperskommissie aan die Suid-Kaap Oumotorklub te skenk.
Panasonic borg die gebruik van ‘n drukker, en Car Magazine borg die druk van die sertifikate wat op die voorruit van uitgestalde motors vertoon word. Die sertifikate bied onder meer inligting oor die model en die eienaar.
Ander borge wat ‘n belangrike bydrae tot die skou lewer sluit onder meer Van Rensburg Foods wat gaan sorg dat vrywilligers nie honger ly nie, asook ER24, wat by die skou teenwoordig sal wees.
Safari Braai maak met ‘n skenking van steenkool dit moontlik om die vure hoog te laat brand. Die onderneming verskaf ook afdakke en baniere.
Die uitstallers ontvang elkeen ‘n geskenkpak met onder meer vuuraanstekers wat deur Safari Braai geskenk is, asook Aloe Ferox-produkte wat teen korting gekoop word.
Vir die oues van dae of diegene wat met moeite beweeg, stel EZ-GO gholfmotortjies beskikbaar waarin hulle op die terrein kan rondbeweeg.
Loerie Lodge bied verblyf aan, terwyl Eden Karavane twee woonwaens beskikbaar sal stel wat op die terrein gebruik kan word as basis vir noodsaaklike dienste.
Ruim skenkings van Tooty Fruity, Roelf & Jacks, DFM en Palm Tyres maak dit moontlik om ‘n veilige speelplek vir kleuters in te rig.
Die Suid-Kaap Oumotorklub en die organiseerders van vanjaar se George Oumotorskou dra hul innige dankbaarheid oor aan die borge.
“Ons kan nie die George Oumotorskou sonder die hulp van die sakeondernemings in George en omgewing aanbied nie. Ons is baie dankbaar vir almal se ondersteuning,” sê Karen van der Merwe, voorsitter van die Suid-Kaap Oumotorklub.