OCC 2016 se wiele aan die rol – Komitee herstruktureer

Sedert sy beskeie ontstaan in 2002 toe 27 rolstoel-atlete aan ʼn wedren teen die Outeniqua pas af deelgeneem het, het die Outeniqua Wheelchair Challenge ʼn gewilde geleentheid op die Nasionale en Internasionale kalenders vir gestremde atlete geword.  Airports Company South Africa (George Lughawe) en George Munisipaliteit is weereens die hoofborge vir OCC 2016 wat op 20 Februarie 2016 in George plaasvind.  Meer as 1,200 inskrywings word verwag.

Ian Laxton, die Seremoniemeester voer ‘n onderhoud met OCC Veteraan, Ernst van Dyk, die wenner van die OCC 2015 Marathon tydens die prysuitdeling
Ian Laxton, die Seremoniemeester voer ‘n onderhoud met OCC Veteraan, Ernst van Dyk, die wenner van die OCC 2015 Marathon tydens die prysuitdeling

In 2006 het die OCC Suid-Afrikaanse kampioenskap status ontvang by SASAPD (Suid Afrikaanse Sportraad vir Persone met Gestremdhede).  Gedurende dieselfde jaar het dit Internasionale status ontvang met die eerste deelnemers uit Europa, Skotland en Amerika.  In 2012 was die OCC ʼn kwalifiserings geleentheid vir die 2012 Paralimpiese spele.

Die inskrywingsvorms is versprei en is ook op die webwerf beskikbaar.  Sewe groepe het reeds registreer asook 20 atlete van Zimbabwe, ten spyte van die trauma met OCC 2015 toe een van hulle atlete in ʼn padongeluk in George gesterf het. Daar is 5 inskrywings vanaf Ghana, een van Duitsland en een vanaf Brittanje ontvang.  Ernst van Dyk, die huidige rekordhouer in die 42.2km marathon sal volgende jaar aan sy 14de OCC deelneem en berei reeds voor om sy staande rekord te verbeter.

Die Uitvoerende Burgemeester, Raadsheer Charles Standers sê “met die aanbied van die OCC asook die Go George busdiens wat die eerste 100% universeel toeganklike openbare busdiens in Suid-Afrika is, staan George  bekend as die mees gestremd-vriendelike stad in Suid-Afrika.”

Die Bestuurder van George Lughawe, Me Brenda Vorster, het trots bygevoeg dat “Airports Company South Africa (George Lughawe ʼn trotse ondersteuner van die OCC is en dat die OCC nogeens ʼn voorbeeld is van die uitstekende vennootskap tussen George Lughawe en George Munisipaliteit, tot voordeel van die hele gemeenskap.”

Vrywilliger-komiteelede word uitgenooi

George skud dus vere reg om gedurende Februarie volgende jaar weer tussen  2,000 en 3,000 OCC-besoekers met kenmerkende Suid-Kaapse gasvryheid te ontvang.  Die kern van die reëlingskomitee is gefinaliseer en elke komiteelid gryp hul verantwoordelikhede met entoesiasme aan om voort te bou op die OCC suksesse van die verlede.

Volgens Ansie Swart, OCC Koördineerder, is die portefeuljes in die komitee herstruktureer om voorsiening te maak vir die veranderende uitdagings.  Die uitdaging om hierdie byeenkoms te organiseer verg verantwoordelike en deurlopende insette aangesien die atlete geheel en al in die hande van die komitee is wanneer hulle in George aankom.

Sy is dankbaar vir die organisasies wat die afgelope drie jaar deel van die komitee vorm om ʼn gladde byeenkoms te verseker.  Die George Rotariërs werk saam om die atlete behoorlik te voed, studente en personeel van NMMU verseker dat die aankoms en registrasie op die oggend van die wedren ordelik verloop, terwyl die Eden Lions die roete bestuur om te verseker dat daar nie haakplekke ontstaan nie.

Volgens Ansie is daar vier portefeuljes waarvoor passievolle organiseerders “met ʼn hart vir persone met spesiale behoeftes” uitgenooi word om deel van die vrywilliger-span te word:

  • Registrasie en Datavaslegging,
  • “Venue” koördineerder,
  • Logistieke- en Vervoerkoördineerder,
  • BBP-koördineerder (Celebrity Coordinator).

“Organiseerders met sterk vermoëns op hierdie gebiede word hartlik uitgenooi om my te kontak sodat ons die moontlikhede vir betrokkenheid kan bespreek” het Ansie gesê.  “Dit is belangrik vir die OCC asook George as geheel dat ons sterk mense tot die komitee byvoeg, wat die byeenkoms op ʼn nuwe peil kan help loods.”

Geleentheid vir plaaslike besighede

Die hoofborge Airports Company South Africa (George Lughawe, en George Munisipaliteit ondersteun soos gebruiklik weer die OCC.  Ander borge soos  Lancewood, Mr Ice, Kempston Truck & Motor Group, Medihire, Millers en Safari Braai, Town Lodge en Garden Route Mall het hulself weereens verbind tot die sukses van die wedren. Millers prokureurs is weer die medaljeborg vir die 14 de jaar.  Die begroting van vlak oor die R1 miljoen is byna volskryf.

Besigheidseienaars word deur die OCC uitgenooi om waterpunte, etes, toerusting, vervoer of verblyf te borg en sodoende hul name aan hierdie wedren met Internasionale status te koppel.  Die wedren lok baie mediabelangstelling en was verlede jaar op verskeie radiostasies asook op TV uitgesaai.

Die OCC gee verder ook jaarliks aan elke gestremde deelnemer en sy/haar bystandspersoon ʼn geskenkpakkie.  Plaaslike besighede word ook genooi om geskenk-items te bewillig wat in die pakkies geplaas kan word.  Daar word verwag dat gesamentlik 2,400 atlete en bystandspersone volgende jaar se wedren sal bywoon.

Leen-rolstoele benodig

Baie atlete kom jaarliks per bus en benodig dan rolstoele om te gebruik in die 5 Km pretloop wat in Yorkstraat plaasvind.  Organisasies en individue word uitgenooi om rolstoele vir die doel aan die OCC te leen vir Saterdag 20 Februarie 2016.  Die stoele sal voor en na die geleentheid nagesien word om te verseker dat dit in goeie toestand aan die eienaars terugbesorg word.  Dit kan ook by die eienaars gekollekteer word.

Navrae kan gerig word aan enigeen van die volgende komiteelede:

Ansie Swart by 079 397 4655, Marita Swanepoel by 083 610 2602 of Mertia Ross by 082 712 4443.  ʼn Epos kan ook gestuur word na swartam@telkomsa.net

Vir meer inligting besoek:  www.occgeorge.co.za

Share Button
,

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →