Samewerking tussen Slypsteen Development Centre van Oudtshoorn en die TalkUBUNTU-stigting van Nederland is met die onlangse besoek van Louis Krüger, voorsitter van die Stigting en predikant aan die Koningskerk in Rotterdam aan die Suidkaap, versterk.

Slypsteen, wat sy merk gemaak het om talentontwikkeling te bevorder en om veral die jeug te bemagtig, is nou voltyds as nie-winsgewende maatskappy betrokke om hierdie funksies voort te sit en uit te brei.
Sedert Krüger se eerste besoek aan Die Peperboom aan Oudtshoorn op 17 Februarie 2014, het die twee instansies die fokus wat hulle op Afrika-ontwikkeling gestel het verskerp, sonder om tred met die res van die wêreld te verloor:

talkUBUNTU is die eerste ooit Afrika gebaseerde sosiale media onderwysomgewing wat ontwikkel is vir Laer- en Hoérskole van regoor die kontinent. Die platform, projek en program ondersteun die Suid Afrikaanse onderwyskurrikulum vir Lewensoriëntering, Studie- en Loopbaanbegeleiding sowel as kulturele kennisontwikkeling.

“Dis jammer dat daar steeds opvoedkundiges wat die belangrikheid van vakke soos Lewensoriëntering en die Geskiedenis onderskat,” het Hans Oosthuizen, voorsitter van die direksie van Slypsteen, by navraag gesê: “Wat baat simbole in verskeie vakke, terwyl die simbool van Menswees vir Mense en Jouself misgekyk word?”

Louis Krüger se gesprekvoering met verskeie rolspelers op Oudtshoorn het ‘n nuwe era in globale opvoeding en samewerking ingelui.
“Dis ‘n wonderlike geleentheid waarvan ons die volle impak eers later sal besef,” was sy afskeidswoorde voor sy vertrek.
Die Slypsteen/talkUBUNTUprojek word in samewerking met skole uit die Eden en Sentraal Karoo Onderwysdistrik aan die hand van sy, I AM NELSON MANDELA / EK IS NELSON MANDELA projek geloods. Die loodsprogram word in samewerking met die studente van die Maharishi Instituut in Johannesburg ontwikkel. SOLO Outdoor Experiences wat deur jong skoolverlaters, entrepreneurs en studente bedryf word, is ‘n belangrike skakel om die generasiegaping tussen Jeug en Ervaring te oorbrug.
Die Beskermheer van talkUBUNTU is Me Thandi Lujabe-Rankoe, voormalige Suid Afrikaanse ambassadeur in Noorweë, Tanzanië en Mosambiek. Thandi se twee boeke, A Dream Fulfilled en Two Nations One Vision, reflekteer die memoirs van ‘n vrou wat steeds besig is om ‘n verskil in gewone mense se lewens te maak.
Belangstellendes kan Slypsteen by info@slypsteen.co.za vir meer inligting oor die projek kontak.