Suid-Afrikaanse romantiese avontuurfilm Vir Altyd het die gesogte nommer een posisie in verdienste by die plaaslike loket vir Afrikaans verbygesteek – en het weereens bewys dat gehore mal is oor films met ’n opregte boodskap.
Na slegs vier weke op die kringloop, het Vir Altyd R13,4 miljoen verdien. Vir Altyd, wat gemaak is deur dieselfde span as die hoogs suksesvolle Pad na jou Hart, het hierdie week loketsyfers oortref, en het die filmmakers nederig en dankbaar gelaat.
Die verspreider van Vir Altyd, Ster-Kinekor Entertainment, het die volgende verklaring gemaak: “Ons bevestig dat Vir Altyd nou die grootste loketinkomste vir ’n Afrikaanse rolprent het. Dit het die loketverdienstes van Liefling en Pad na jou Hart verbygesteek en staan nou op R13,4 miljoen. Ons is verheug met die sukses. Ons wens die vervaardigers en almal betrokke baie geluk met die prestasie. Die rolprent word nog landswyd vertoon.” – Pieter Geldenhuys.
Na die film se sukses, sê Ivan Botha en Donnalee Roberts, skrywers, mede-vervaardigers en hoofspelers van die film: “Dit is vir ons so ’n groot eer en voorreg om hierdie mylpaal te kon bereik. Ons is onbeskryflik dankbaar vir elke persoon wat Vir Altyd gaan kyk het, die terugvoer is oorweldigend en ons waardeer dit oneindig baie! Ons hoop werklik dat die ondersteuning van Vir Altyd momentum sal bou vir al die opkomende plaaslike films wat hierdie jaar uitgereik word, sodat ons Suid-Afrikaanse filmindustrie net van krag tot krag kan gaan.”
Danie, medevervaardiger van Vir Altyd lewer ook die volgende kommentaar op hierdie mylpaal: “Rekords is daar om gebreek te word. Vir my eer dit die prestasie van jou voorgangers of tydgenote en tweedens dien dit as aansporing vir jouself en die span saam met wie jy werk om jou bes en beter te doen. Wat ’n inspirasie om Liefling vir so lank te kon volg as ’n baken, wat ’n opwindende vooreg om ’n nuwe mylpaal te kan stel.”
Vir Altyd vertel die verhaal van Hugo (Ivan Botha) en Nina (Donnalee Roberts) wat saam as beste vriende grootword, ten spyte van haar ouers se teësinnigheid, maar wat kontak verloor weens ’n tragiese gebeurtenis wat hul lewens vir altyd verander.
Na tien jaar sien Hugo en Nina mekaar weer op die vooraand van haar troue met Retief (Stiaan Smith). Maar, wanneer haar feëverhaal tot ’n einde kom, gaan sy en Hugo Mauritius toe as ‘bruid’ en ‘bruidegom’, en word gekonfronteer met pynlike herinneringe en sterk emosies.
Op die eiland besef hulle, na vele avonture en nadat hulle ander paartjies ontmoet het, dat dit nie oor die gelukkige einde gaan nie, maar oor die reis op pad soontoe.
Elize Cawood, Wilson Dunster, Illse Roos, Dirk Stoltz, Laré Birk, Deidre Wolhuter, Andre Jacobs, André Stolz, Sans Moonsamy, Nicky de Kock, Caylem Else en Hèléne Truter is ook in die film te sien.
Vir Altyd is deur 17FilmStreetMedia en The Film Factory vervaardig en is uitgereik deur Ster-Kinekor Entertainment.
PUBLIEKE SKAKELS:
Webblad: www.viraltydfilm.co.za
Facebook: Vir Altyd Film
Twitter: @VirAltydFilm