ADAM se nuwe album is oppad!

Na drie suksesvolle albums en ‘n kortspeler saam met Daniel Baron, is die popgroep ADAM (Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant) kliphard aan die werk aan hul volgende album, Hoogtevrees, wat teen die middel Augustus 2016 op die rakke sal wees.

1

Goeie nuus vir stoere aanhangers van die groep is egter dat die titelsnit van die album nou reeds as ‘n enkelsnit uitgereik word.

Die meeste mense sal kan identifiseer met die liedjie Hoogtevrees, vertel Hugo Ludik wat dit saam met sy sangmaat Reynardt Hugo geskryf het. “Dit gaan oor ‘n romantiese verhouding wat by ‘n kruispad kom en jy dan wonder: wat nou?”  Dikwels sal ‘n mens dan die verhouding in twyfel trek en wonder of dit gaan werk of nie. Hugo verduidelik dit is dan dat jy soms maar net jou oë moet toeknyp en ‘n geloofsprong maak. “Jy moet van die verlede vergeet en op ‘n skoon bladsy begin,” is sy advies.

Hy beskryf Hoogtevrees as ‘n “polsende popliedjie met ‘n vinnige tempo waarop jy lekker sal kan dans”.

Oor die uitreiking van die volledige album in Augustus is die manne net so opgewonde. Hugo vertel dat hulle twee jaar lank aan hom gewerk het, en daarom is dit beslis die album met die sterkste liedjies op. “Dit is in ‘n tipiese ADAM-styl waaraan ons ondersteuners gewoond is. Ons het daardie fondament behou maar tog ook ‘n paar nuwe klanke ingebring,” verklap hy.

ADAM is sekerlik een van die mees produktiefste groepe vandag in Suid-Afrika. Na hul eerste album, Adam, in 2011 verskyn het, het hulle Vir jou gemaak (2012) en daarna Goud (2014) uitgereik. Al drie hierdie albums het goue status bereik.

In 2014 sing hulle die liedjie Sal oorlog vir jou maak in die plaaslike lokettreffer-fliek, Pad na jou hart, wat ‘n oornag-sukses vir hulle word. Dit boer nie net op die treffersparades nie, maar ontvang ook ‘n Huisgenoot Liedjie van die Jaar-nominasie asook ‘n Ghoema-toekenning vir Liedjie van die jaar.

Ander Ghoema musiektoekennings op ADAM se kerfstok sluit in Beste Nuweling (2011) en Groep van die Jaar (2015).

Verder tree hulle vir drie jaar agtereenvolgens (2012 – 2014) by die Huisgenoot Skouspel in die Sun City Superbowl op.  ADAM skuur ook skouers met internasionale kunstenaars. Hulle open vir die Ierse groep, Westlife, in Namibië (2011) en vir die Australiese rockgroep, Air Supply, tydens hul Suid-Afrikaanse toer (2014).

Album-lys 

  • Adam (2011)
  • Vir jou gemaak (2012)
  • Goud (2014)
  • Young and Wild – met Daniel Baron (2015)

Ontmoet die Adam’s

Hugo Ludik (skrywer en sanger) se eerste “openbare optrede” was in 2003 toe hy as regsstudent by die Universiteit Stellenbosch aan die inter-koshuis serenadekompetisie deelgeneem het. Daarna het Hugo vir vyf jaar lank saam met sy broer, die sanger en akteur Stefan Ludik, landswyd opgetree. Hy het besef daar is ‘n tekort aan oorspronklike Afrikaanse liedjies en begin toe self skryf. In 2008 wen hy en Willie van der Merwe die Huisgenoot Tempo liedjieskryfkompetisie met hul liedjie Papsopwinterwaternat. Dit is later deur Kurt Darren opgeneem.

Behalwe vir die musiek op ADAM se albums, skryf Hugo ook liedjies vir talle ander kunstenaars soos Kurt, Willem Botha, Pieter Koen en Gerhard Steyn.

Hy het sy eie produksiemaatskappy, Muse Productions, en is ook betrokke by die platemaatskappy Luisternet Musiek.

Nadat Reynardt Hugo (skrywer en sanger) sy BA Drama-graad in 2007 by die Universiteit van Pretoria verwerf het, het talle teaterstukke en musiekblyspele gevolg. Onder andere was hy ook in 2008 in die produksie Houtkruis te sien.

Daarna het hy die rol van dr. Tertius Jonker in die kykNET-sepie, Binnelanders losgeslaan, ‘n karakter wat hy steeds vertolk. Hy tree ook as seremoniemeester en spreker by funksies op.

Hy en sy mede-toneelspeler, Desiré Gardner, is ook vennote in ‘n dramaskool.

Reynardt skryf die meeste van ADAM se liedjies saam met Hugo.

Kyle Grant (sanger) het sy musiek- en verhoogloopbaan by Barnyard Teaterproduksies begin waarna hy in 2009 en 2010 die rol van Schalk in die destydse TV-reeks Egoli gespeel het. In 2012 was hy as die karakter Billy Kostecki in Dirty Dancing, The Musical, te sien wat internasionaal getoer het.

Hy het homself ook bewys as ‘n uitstekende akteur, sanger en danser in ander verhoogporduksies soos Chess – The Musical, Sunset Boulevard en Hairspray wat waarmee hy ook internasionaal getoer het.

Volg ADAM op sosiale media:

ADAM

www.adamband.co.za

https://www.facebook.com/adamgroep

Twitter:  Adamgroep

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →