Hy woon op een van die kleinste dorpies in die land, maar het groot skoene om vol te staan.
Wilhelm Petrus van Heerden van die plaasdorpie Rheenendal, ’n hanetree vanaf Knysna, voer die Suidwestelike Distrikte (SWD) dié week aan by die o.18-Cravenweek. Maar die verdere ironie is dat niemand in die Suid-Kaap hierdie naam ken nie – almal praat van WP van Heerden. En hierdie voorletternaam het ’n geskiedenis.
By sy geboorte 18 jaar gelede op Knysna wou sy pa, Frik, wat ’n groot ondersteuner van die Westelike Provinsie-rugbyspan is, die klong WP laat doop! Ma Cecily het egter voet neergesit en seker gemaak die familiename word nie oorboord gegooi nie. Sodanig is hy geregistreer – maar almal noem hom steeds WP.
Hierdie plaasklong van die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal is van kleins af ’n losvoorspeler én ’n ware leier – in die Laerskool Knysna van die o.11-span, later in die hoërskool van ál die ouderdomsgroepe en daarby het hy die SWD by die o.13-Cravenweek sowel as die o.16-Grant Khomoweek aangevoer. “Hy is nie soseer ’n prater op die veld nie, maar ’n doener,” sê pa Frik. “Maar wat hom ’n knap kaptein maak, is dat hy oor die vermoë beskik om die teenstanders se strategieë gou te kan opsom en dan teenvoeters sal uitwerk.”
WP, wat ’n paar jaar gelede die SWD ook in atletiek in skyfwerp verteenwoordig het, voel baie optimisties oor die Jong Arende se kanse by die Cravenweek. “Dit is ’n lekker span met vinnige agter- én voorspelers wat oor heelwat vaardighede beskik.”
Hy volg in die voetspore van ouboet Frederik (Boeta), wat ook vir die SWD-skolespan en later vir die Vrystaat se o.19- en o.21-span uitgedraf het.
Volgende jaar bevind WP hom by die Cheetahs in Bloemfontein. Met sy groot belangstelling in plantkunde wil hy ’n BSc-graad by Kovsies gaan losslaan.