Plaaslike vermaaklikheidsgroep te sien op kykNET!
Die lokaal geproduseerde Klikkerland reeks is nuut, vars en kleurvol en neem die Suid-Afrikaanse kindervermaaklikheids wêreld op horings!
Klikkerland is in 2012 begin deur ‘n groep talentvolle kunstenaars met ‘n passie vir kindervermaak en ‘n liefde vir teater. Die Oakhurst Insurance George Arts Theatre in Yorkstraat, George was die knopings punt vir die kunstenaars en dit is hier, in die hartjie van die Tuinroete, waar Klikkerland gebore is.
Met die fokus op kwaliteit, pret en ‘n tikkie opvoedkundigheid, is liedjies beplan en getoonset, draaiboeke geskryf en kleurvolle karakters ontwikkel. Die karakters is goed beplan sodat daar ‘n persoonlikheidstipe vir elke kind is. Selfs die name van die karakters is gekies om te help om kindertongetjies te oefen om moeilike afrikaanse klanke uit te spreek! Kinders wie se huistaal nie Afrikaans is nie sal ook baat vind by Klikkerland.
“Ons wou altyd seker wees dat die produk geskik is vir die ouderdom kind wat ons wou bereik, en het baie moeite gemaak om alle aspekte van die produk by kinders te toets”.
Met die karakters en konsep gevestig, was daar dringend gesoek na ‘n stel vir Klikkerland waar die episodes verfilm kan word.
“Ons was redelik platsak op daardie stadium. Maar wat ons nog altyd deur alle uitdagings gedra het is ons visie, kanniedood houding, deursettings vermoë en onverskrokke toeweiding. Ons glo vas dat enige iets moontlik is met harde werk !”
Dit was met hierdie visie wat ‘n deel van die George Arts Theatre, wat gewoontlik agter die skerms is, se potentiaal raak gesien is. ‘n Stoorplek en bêreplek vir ditjies en datjies het die huis van Klikkerland geword!
“Ons almal deel ‘n groot liefde vir ons teater en dit vir ons baie belangrik om altyd hier terug te ploeg. Die teater is waar ons mekaar ontmoet het, en dit is hier waar ons ons drome uit leef”.
Daar is beplan, begroot, sente omgedraai en gunse gevra, en na ‘n paar naweke se skrop, skuur, verf en plak was die eindresultaat asemrowend!
Die Klikkerhuis is die perfekte agtergrond vir die wonder en avontuur wat die Klikkerland karakters beleef in die Klikkerland episodes!
“Ons is baie lief vir ons stel en trots om die Oakhurst Insurance George Arts Theatre die huis van Klikkerland te noem”.
Die verfilming van die DVD reeks het goed afgeskop met die eerste DVD in die reeks waarin die Klikkerlanders leer van troeteldiere en hoe om hul vrese te hanteer. Volume 2 het vinnig gevolg met ‘ n reis na ‘n melkplaas om te gaan kyk waar melk vandaag kom en Boebel het ook geleer hoe belangrik oefening is .Volume 3 in die reeks stel die maats voor aan nuwe Klikkerland karakters en die groep besoek ‘n volstruisplaas, die see en Rimmel Rammel gaan swem saam met die haaie!
Hierdie 3 DVD’s is in episodes opgedeel en is tans te sien op kykNET se kanaal 146! Die reeks word ook versprei deur WOW Music Distribution by verskeie musiekwinkels landswyd! Die volledige episodes is ook digitaal beskikbaar op die Klikkerland webtuiste.
Maar die sukses van die eerste 3 DVD’s beteken nie dat die Klikkerland kreatiewe span op hul louere rus nie ! Klikkerland DVD Vol 4 is reeds verfilm en het nog meer pret en nuwe musiek om na uit te sien.
“Nou dat die wiel aan die rol is, gaan daar baie deure oop, en ons is baie opgewonde oor wat die toekoms inhou”.
Wat verdere dvd en televisie produksies aanbetref is die res van die 13 programme van die reeks reeds beplan en uitgelê. Die span is druk besig om musiek en nuwe materiaal te skryf. Die finale reeks sal bestaan uit 7 DVD’s en die groep beplan ook om binnekort die musiek op hul webtuiste en in CD formaat beskikbaar te hê.
Maar Klikkerland is nie net op die kassie te sien nie!
Die Klikkerland span se kleurvolle karakters en die kleurvolle vertonings vol pret, dans en musiek het reeds harte van jonk en oud verower by verskeie optredes in die Tuinroete en area soos die Knysna Oester Fees, Hops Fees, Bloeiselfees, George Skou, Eden Place, Dias Somer Fees, Hoekwil Eeufees en vele meer. Kli kkerland se optredes by KKNK 2014, 2015, 2016 is ook met groot sukses ontvang.
“Die sukses van Klikkerland is definitief ons ‘hands-on’ motto in die produksie proses. Ons is betrokke en deel van elke stap. Alle fyn details moet reg wees voor ons tevrede is”.
Klikkerland is te sien op kanaal 146 Maandag tot Vrydag 8h00. Kontak die Klikkerlanders gerus per epos by info@klikkerland.co.za of gaan kuier op hul webwerf klikkerland.co.za of by Facebook onder Klikkerland.