Uitvlucht nou op DVD en DStv BoxOffice beskikbaar!

UITVLUCHT is met sorg en geloof in die onderwerp gemaak en vertel sy eenvoudige geestelike storie met deernis. Die storie is bekoorlik, toeganklik en inspirerend vir mense wat positief wil raak in ʼn tyd waarin ons almal maar bra negatief voel.” – Leon van Nierop

1

Bekroonde filmmaker, Regardt van den Bergh, wat bekend is vir lokettreffers soos Faith like Potatoes, Klein Karoo en vele meer, het dit weer reggekry om kykers se harte te verower met sy nuutste fliek, UITVLUCHT.  Die fliek is nou by alle DVD huurwinkels en ook op DStv BoxOffice beskikbaar.  Indien jy die fliek wil aanskaf kan jy gerus ‘n draai by jou naaste Musica tak maak!

Hierdie geestelike drama vertel die storie van Anna (Clara Joubert van den Bergh), ’n gewone middelklas-vrou, wat ná ’n fout alles verloor wat saakmaak in haar lewe. In haar gebrokenheid kry sy werk op ’n plaaskooltjie met die naam Uitvlucht. Soos wat sy die kan wurms – waarmee sy gekonfronteer word – stelselmatig uitpluis, begin haar eie genesing plaasvind en leer sy om haarself te vergewe en te aanvaar dat iemand haar dalk weer sal liefhê. Met die ondersteuning van die ander onderwysers en Dok (Stian Bam), ’n sagte vriendskaplike boer wat die Uitvlucht-skool besoek en Anna bevriend, vind sy die moed om haarself en die mense rondom haar weer op te bou. Behalwe vir haar eie dilemma, moet sy skielik skoolouers se drankmisbruik, kinders wat gemolesteer word en ongenaakbare mense hanteer, wat geen ontsag het vir hulle eie lot nie. Dit is ’n storie van hoop in ’n hopelose situasie, genade in desperaatheid, en van liefde wat alles oorwin. Oscar Petersen, Lika Berning, Clyde Berning, Margot Luyt en Carel Trichart is ook in die fliek te sien.

Uitvlucht is ’n ware plaasskool in die voetheuwels van die Suurberge in die Langkloof in die Oos-Kaap. Soos by baie ander plaasskole, is daar geen hulpbronne nie en moeilike sosiale uitdagings vir die gemeenskappe, soos alkoholmisbruik, kindermishandeling, ongeletterdheid en gesinsgeweld. “Die genade in die naam Uitvlucht het my getref en ons het gedink dit sal interessant wees om die storie te vertel van ’n ouer paartjie wat verlief raak. Ek dink wat ons ook geïnspereer het is die wonderlike kinders en as jy dit met ’n treffende liefdesreis vleg, kan ’n mens nie anders as om te dink as aan storiesvertel nie,” vertel regisseur Regardt van den Bergh.

Die plaaslike gemeenskap was van onskatbare waarde tydens die verfilming van die film en veral die kinders van die skooltjie het gewys hul hoef nie terug te staan vir enige professionele akteurs nie. Regardt sê: “Om die egtheid nog meer te onderstreep, is daar op die Uitvlucht-skooltjie self geskiet en met die skool se eie kinders. Hierdie leerders het ieder en elk verbaas met hulle natuurlike spel en vrymoedigheid voor die kameras. Daar is 48 kinders wat almal deel van die filmmaak was. Hulle lewendigheid en spontaneïteit was so aansteeklik en inspirerend. Dit was n vreugde om in n werklike klassituasie hulle spontaneïteit en interaksies te skiet. Omdat daar baie werklike ervarings in die rolprent verbeeld word, is ons geïnspereer deur die regte lewe. Die karakters vind hulle oorsprong in werklike ervaringe. ‘Truth is stranger than fiction’. Die kinders se dialoog is amper honderd persent soos Clara dit onthou het uit haar ervarings van die vyf jaar wat sy daar skoolgegee het.”

Vaughan Gardiner, bekende sanger, liedjieskrywer en vervaardiger, en sy vrou het die temalied, Bou aan Liefde, van die fliek geskryf. “Dit is ’n ongelooflike voorreg om hierdie liedjie in Uitvlucht te hê, sê Vaughan. “Alishia van Deventer het my gekontak en gevra of ek belang sal stel om die temalied te skryf en ook om die liedjie te sing. Ek en my vrou Nerine het die rowwe weergawe van die film gekyk en dadelik geweet wat die gevoel van die liedjie moet wees. Sy het weggespring met die lirieke en dit was sommer vir my maklik om die regte melodie vir die liedjie te skryf, want dit is ’n film wat ’n mens nie net kyk nie, maar wat jy ook voel.”

UITVLUCHT is in 2016 genomineer vir Beste Film by die Indie Karoo Film Festival en is reeds deur meer as 25 000 mense regoor die land gesien. “Ons is nou nog besig om die rolprent in die platteland te wys, en sonder uitsondering is die reaksie teenoor die fliek oorweldigend positief. Dit is een van die mees bevredigendste ervarings om te sien en te ervaar dat jou storie werklik met iemand se hart praat”, sê Regardt. Die fliek is vervaardig in samewerking met kykNET en die Industrial Development Corporation, uitgereik deur Ster-Kinekor Entertainment en is geskryf deur Regardt van den Bergh en Clara Joubert van den Bergh, met Vlokkie Gordon en Regardt van den Bergh as vervaardigers en Lika Berning as mede-vervaardiger.

Dit was vir Regardt baie lekker om hierdie inspirerende projek saam met sy vrou aan te pak en hy glo dat die humor, die opregtheid van die karakters en die waarheid van die situasies die bestanddele is wat dit ’n kyker-gunsteling maak. “Die feit dat dit nie net ’n oppervlakkige storie is nie, maar dat daar werklik dieper dimensie is, kommunikeer met ’n baie breër gehoor,” sê hy. Die positiewe boodskap, “Daar’s altyd hoop want God tiekiedraai oor jou in Sy liefde”, tref diep en maak die fliek ’n moet-sien vir oud en jonk.

UITVLUCHT is vanaf 5 September 2016 beskikbaar om te huur op DStv BoxOffice en die DVD isl vanaf 9 September 2016 te koop by Musica winkels.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/MovieUitvlucht?fref=ts

Twitter: @uitvlucht_movie

#HyTiekieDraaiOorJou

Lokprent: https://www.youtube.com/watch?v=qDthzGojhdo&feature=youtu.be

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →