Kaleidoskoop reik splinternuwe enkelsnit uit!

Net soos wat die pragtige kleure en vorms van ’n KALEIDOSKOOP ’n baie spesiale bekoring inhou, net so het hierdie talentvolle akoestiese musiekgroep – met dieselfde naam – dit reggekry om die afgelope tien jaar die harte van musiekliefhebbers regoor die land te verower.

1Hierdie Huisgenoot Tempo-bekroonde (Beste Kontemporêre Album 2012) en Ghoema-genomineerde (Nuweling van die Jaar, Beste Kontemporêre Album, Musiekvideo van die Jaar) sang-duo is self verantwoordelik vir elke aspek van hulle musiek en bied aan luisteraars ’n hoendervleismooi akoestiese klank, vermeng met ’n magiese kombinasie van melodieë en instrumente – wat nie net aanklank vind by gehore van alle ouderdomme nie – maar ook getuig van hulle talent, passie en sinergie.

Die groep, wat tans bestaan uit Jouba (stigterslid) en Anique Jordaan, is in 2006 gestig toe die oorspronklike lede (Jouba en Gerhard Liebenberg) albei nog op universiteit was. Alhoewel hulle in 2007 die album, Bladwisselend, vrygestel het, is alle optredes in 2008 gestaak omdat Gerhard die groep verlaat het om sy beurs in Namibië te gaan terugwerk. Dit was eers toe Anique Jordaan, in 2009, as medesanger aangesluit het dat Kaleidoskoop weer voltyds (in 2010) hulle passie vir musiek hervat het. Sedertdien het dié duo diep spore in die musiekbedryf kom trap, heelwat sukses geniet en die verhoog gedeel met van die land se grootste kunstenaars soos Mathys Roets, Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Drie Van Die Bestes, Lize Beekman, Adam Tas, Chris Chameleon en vele meer. Buiten vir die talle benoemings, toekennings en radiotreffers op hulle kerfstok, geniet die sangpaar se musiekvideo’s ook groot sukses op sosiale media en is die liedjie, Vars Uitgekerf, al deur meer as 77 000 mense op YouTube gekyk, terwyl Roadtrip reeds meer as 44 500 kykers bereik het. Laasgenoemde is ook in 2015 benoem vir ’n Ghoema-musiektoekenning. Die groep het vanjaar ook vir die eerste keer die internasionale verhoog betree met ’n optrede in ’n laventelveld in Geraldton, Australië; was gaskunstenaars op Joshua na die Reën se album (op die lied Stranddans); en het in 2014 saam met Bouwer Bosch, Deon Meiring en Len Muller getoer met die vertoning, Afrikaans Akoesties.

Oor die jare, het hulle drie suksesvolle albums en ’n DVD uitgereik. Platsak (2010), wat in ’n strandhuis in Vleesbaai vervaardig is, is die ideale album om met ’n glasie rooiwyn voor die kaggelvuur te geniet. Dit bevat treffers soos Moedersmelk en Jou Hart In My en fokus hoofsaaklik op liefde en die lewe oor die algemeen. Die tweede album, Vars Uitgekerf, het talle benoemings en toekennings ingepalm en bevat hulle spesiale weergawe van die Cranberries-treffer, Zombie, wat die musiekwêreld van dag een af aan die gons gehad het. Album nommer drie, Acoustic Covers, is saam met ’n DVD uitgereik en bestaan uit Kaleidoskoop se unieke verwerkings van groot en bekende treffers deur ander kunstenaars. “Omdat aanhangers by ons vertonings ook die liedjies wat nie uit ons eie pen kom nie op CD wou hê, het ons besluit om dit op te neem, maar met ’n vars verskil. Dit bevat treffers van wêreldbekende musikante wat verwerk is tot akoestiese weergawes van die oorspronklike saamsing-liedjies,” sê hulle. Acoustic Covers is propvol interessante instrumente soos die trekklavier, wurlitzer, ukulele, glockenspiel, 12-snaar kitaar, kontrabas asook tjello en viole. Die unieke duet-sangstyl van Jouba en Anique verseker ’n vars Kaleidoskopiese weergawe van hierdie ou gunstelinge.

’N NUWE ENKELSNIT EN ALBUM

Ter viering van ’n suksesvolle dekade in die musiekbedryf, het die groep pas ’n nuwe enkelsnit, Wegbreek, bekendgestel wat deel vorm van die splinternuwe album waarmee aanhangers in Maart 2017 bederf gaan word. Hierdie goedvoel-snit (’n gesamentlike poging deur Jouba Jordaan en Christiaan Baartman) het ’n opgewekte folk-popaanslag, wat nie net in jou kop vassteek nie, maar jou ook onwillekeurig sal laat saam neurie. “Die titel van die liedjie spreek vanself. Dit gaan oor die neiging wat almal het om nou en dan weg te breek uit die stad of dorp om uit te span by die see of met ’n grondpad êrens perspektief, eenvoud en ook vrede te gaan vind,” vertel die duo. “Ons kom albei van die platteland af, so ons verlang gereeld na die plaas en die klein dorpies waar ons vandaan kom. Ons mis die eenvoud en rustigheid van die lewe in die platteland, dus gaan die liedjie daaroor om nuwe perspektief te gaan vind. Dit verwoord wat in ons harte aangaan as die tye in die stad te lank raak. Die lirieke van die lied sal nostalgie aanwakker in enigiemand wat spore van avontuurlustigheid in sy are het… wat maar by ons almal ingebore is, maar soms dormant lê. Mense moet dit luister om die vakansiegees aan te wakker en om net weer ’n voorsmakie te kry van hoe dit voel as die son warm aan jou vel kleef. Die goedvoel ritme en melodieë van die lied, asook snaarinstrumente soos die banjo en mandolien skep dadelik ’n lekker plaas- of seevakansieatmosfeer… die perfekte liedjie om in die kar te luister wanneer jy die langpad vat.” 

Alhoewel die komende album nog nie ’n titel het nie, is hulle baie opgewonde oor hierdie projek. Soos met hulle vorige albums, gaan dit ook fokus op die lewe, liefde en menswees en voortbou op die akoestiese wenresep waarvoor hulle bekendheid verwerf het. “Ons het met ons vorige oorspronklike album bietjie geëksperimenteer met ligte elektroniese klanke, maar tog nie ons akoestiese aanslag prysgegee nie. Met die nuwe CD het ons ’n bietjie wegbeweeg van die elektroniese styl en sterk gewoeker met ons diepgewortelde akoestiese aanslag. Ons het ook hier-en-daar die hartseer van die lewe – wat natuurlik ’n realiteit is – aangeraak en steeds probeer om mense te inspireer. Ons wil tuisbring dat jy tog in hartseer en moeilike tye hoop het om aan vas te hou en steeds die mooi in die lewe kan raaksien”, verklap hulle. Elf oorspronklike snitte, met titels soos Somerreën (hulle gunsteling), Die Goeie en Vlugvoetig, en twee verwerkings van bekende liedjies – wat gereeld by hul vertonings gesing word en deur gehore aangevra is om op die volgende CD te verskyn – gaan deel uitmaak van hierdie juweel. “Ons kan met groot opgewondenheid sê dat luisteraars kan uitsien na ’n album, wat hulle met elke luisterslag op ’n ander roete sal neem as gevolg van die besonderse detail in die musiek en verwerking daarvan. Die digte inhoud van die lirieke, asook die groot verskeidenheid van liedjies, sal sorg dat mense vir nog lank deur die album weggevoer sal word.”  

DIE MENSE AGTER DIE MUSIEK

Jouba Jordaan, die stigterslid, liedjieskrywer en komponis, is verantwoordelik vir die kitaar, stem, perkussie, mondfluitjie en ukulele in die groep. Hy kom van ’n baie klein dorpie, Kremetart, naby die Krugerwildtuin en het BSc Wingerd- en Wynkunde studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy liefde vir musiek het vlam gevat toe hy gedurende sy koshuisjare vir die eerste keer iemand in lewende lywe sien kitaarspeel het, wat hom laat besluit het om sy eerste kitaar te koop. Daarna was hy verlief en verlore. In sy derde jaar op Stellenbosch het hy besluit om sy rugbystewels op te hang om die mooi musiekwoud te bewandel, ’n ongelooflike avontuur wat hom gelei het tot waar hy nou is. As hy nie ’n musikant was nie, sou hy hy graag houtwerk wou doen of ’n wynmaker wou wees – waarvoor hy oorspronklik studeer het.

Anique Jordaan is die talentvolle medesanger van Kaleidoskoop met die strelende stem. Sy speel ook die klawerbord en trekklavier. Hierdie sielvolle sanger het reeds op elfjarige ouderdom haar balletskoene verruil vir sanglesse en spog met ’n UNISA Graad 7-kwalifikasie in klavier agter haar naam. Sy het ’n BSc in Menslike Lewenswetenskappe, asook ’n honneursgraad in Fisiologie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en vir drie jaar in die koor gesing. Sy was ook die sêrleier van haar koshuis, Metanoia, wat in 2007 as wenners uit die nasionale sêrkompetisie getree het. As sy nie musiek gemaak het vir ’n lewe nie, sou sy graag ’n kleuterskooljuffrou wou wees of iets wou doen in die visuele kunste.

Kaleidoskoop het groot drome vir die toekoms, wat nog baie albums, optredes en ’n toer na België insluit. Hulle sou ook graag nog eendag saam met Laurika Rauch wou musiekmaak. “Sy is een van ons albei se kinderheldinne en haar liedjies wakker baie nostalgie en soveel emosies in ons aan. Sy is na al die jare in die bedryf nog net wie sy is, getrou aan haarself en haar musiekstyl. Ons bewonder ook haar nederigheid en warmte as mens,” vertel die twee wat baie met dié musieklegende kan identifiseer. “Die musiekbedryf het ons geleer dat harde werk beloon word en dat jy daarom getrou moet wees aan jouself en die musiek waarmee jou hart resoneer. Dit is ’n groot voorreg om dit te kan doen waarvoor jy lief is en self te besluit waar jy wil optree, want daar is baie kunstenaars wat enige plek moet speel net om in ’n maand uit te kom.”

Dié sangduo glo dat musiek ’n universele taal is, wat direk met die hart praat en hulle eie werk weerspieël juis hierdie einste eienskap. Die treffende manier waarop hulle dit oor die jare reggekry het om hulle stemme met verskeie instrumente en klanke te kombineer en dit aan te vul met roerende lirieke, prikkel nie net die hartsnare nie, maar is ook ’n plesier vir elke oor wat daarna luister. Hulle nuutste enkelsnit is uit die boonste rakke en getuig dat hulle musiek oor die jare, net soos ’n goeie bottel rooiwyn, gegroei het tot die volronde unieke klank wat musiekliefhebbers met hierdie talentvolle musikante assosieer. Ons kan nie wag om te sien wat die volgende tien jaar gaan oplewer nie.

NOG ’N TREFFER OM TE GENIET

Bang Jan Dooie Man

LUSMAKERS VAN HULLE AKOESTIESE VERWERKINGS

– Paul Simon se Call me All
– Michael Jackson se Billie Jean
– Brandi Carlile se The Story
– Chicago se If you leave me now
– ABBA se Super Trooper
– Eternal se I wanna be the only one

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://web.facebook.com/Kaleidoskoopband/

Twitter: @kaleidoskoop2

Webblad: www.kaleidomusiek.co.za

Instagram: @kaleidoskoop_2

YouTube: https://www.youtube.com/user/Kaleidoskoopband

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →