Ernstige siektes is duur – maak voorsiening

Met Movember wat die kollig op prostaatkanker laat val, is dit nou die ideale tyd om jou gesin met omvattende lewens- en gevreesdesiektedekking te beveilig.

Dit is nie net noodsaaklik om jaarliks ’n volledige mediese ondersoek te laat doen nie, maar ook om jouself en jou gesin te beskerm teen die finansiële gevolge van ’n ernstige of gevreesde siekte soos kanker of ’n hartsiekte, sê Peter Dempsey, adjunk- uitvoerende hoof van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa).

Kanker word elke jaar by meer as 100 000 Suid-Afrikaners gediagnoseer en Suid-Afrikaanse mans het ’n kans van een uit agt om in daardie bootjie te beland, aldus die Nasionale Kankerregister se 2010-statistieke.

Met borskankerbewustheidsmaand wat pas verby is en Movember wat die kollig op prostaatkanker laat val, is dit nou die ideale tyd om proaktiewe stappe te doen om jou gesin se finansiële welstand met omvattende lewens- en gevreesdesiektedekking te beveilig, sê Dempsey.

“Benewens die fisieke en emosionele tol op iemand by wie ’n gevreesde siekte gediagnoseer is, plaas dit dikwels geweldige finansiële spanning op ’n gesin. Dit beteken dalk dat die broodwinner nie kan werk nie.

“Daar kan ook bykomende uitgawes wees soos reisuitgawes, duur behandelings wat nie deur die mediese fonds gedek word nie, of om vir ’n versorger te betaal,” sê hy.

“Produkte vir ernstige of gevreesde siektes is dus ontwerp om ’n voordeel te betaal wanneer ’n ernstige siekte by jou gediagnoseer word of wanneer jy ’n traumatiese mediese voorval soos ’n beroerte of hartaanval gehad het wat jou finansieel kan ruïneer.”

Hy meld dat hoewel baie Suid-Afrikaners versekering steeds as ’n teensinnige uitgawe beskou, lewensversekeraars in die jaar tot einde Junie 2016 die meerderheid eise teen onderskryfde polisse gestand gedoen het en sowat R36,5 miljard aan begunstigdes van lewens-, ongeskiktheids-, inkomstebeskermings- of gevreesdesiektedekking uitbetaal het.

“Hierdie voordeelbetalings het ’n finansiële lewensboei aan talle families gebied ná die dood, ongeskiktheid of ernstige siekte van ’n broodwinner.”

Dis nie dieselfde as…

Inkomstebeskermings- en ongeskiktheidsdekking vervang nie versekering vir gevreesde siektes nie, waarsku Dempsey.

“Jy mag tegnies dalk in staat wees om aan te hou werk ná ’n voorval soos ’n minder ernstige hartaanval, wat beteken jy kwalifiseer dalk nie vir ’n uitbetaling van jou ongeskiktheids- of inkomstebeskermingsdekking nie,” verduidelik hy.

DIE WAARDE VAN ADVIES EN OM TE SORG JY HET GENOEGSAME DEKKING TEEN DOOD, ONGESKIKTHEID EN GEVREESDE SIEKTES, SAL DADELIK DUIDELIK WORD INDIEN DIE ONVERWAGTE GEBEUR.

“Maar as jy leefstylaanpassings moet maak en jou werklas moet verlig om jou stresvlak te verlaag, sal die gevreesdesiektedekking-uitbetaling help om die inkomstetekort aan te vul.”

Hoewel die reeks siektetoestande wat gevreesdesiekteprodukte dek van versekeraar tot versekeraar verskil, is die “groot vier”-toestande wat gewoonlik gedek word hartaanvalle, kanker, beroertes en hartvatomleidings.

Dempsey meld dat dié vier toestande meer as die helfte van alle gevreesdesiektevoorvalle uitmaak, maar dat jy ook jou eie geskiedenis en omstandighede in ag moet neem wanneer jy ’n polis kies.

“Sommige polisse bied byvoorbeeld voordele vir siektetoestande wat wissel van Alzheimer se siekte tot tuberkulose en ernstige brandwonde,” sê hy.

Hy meld dat sommige maatskappye ook die opsie bied om dekking te heraktiveer nadat jy geëis het. Dit beteken dat indien jy byvoorbeeld ’n hartaanval gehad het en kanker later by jou gediagnoseer word, jy weer van jou versekering kan eis, verduidelik hy.

Watter produkte is beskikbaar?

Dempsey sê daar is twee breë gevreesdesiekte-dekkingskategorieë beskikbaar, naamlik produkte wat op die graad van die erns van die toestand gegrond is of dié wat op diagnose gegrond is.

Erns-gegronde dekking is gewoonlik goedkoper omdat dié polisse voordele betaal afhangende van die graad van die siekte of voorval. Dit beteken die bedrag wat jy ontvang, sal afhang van of jy byvoorbeeld ’n ligte of ’n hewige beroerte gehad het.

“Daarteenoor sal diagnose-gegronde dekking die volle voordeel betaal, mits daar aan sekere mediese kriteria voldoen is. Daarom is dié soort versekering gewoonlik duurder,” sê Dempsey.

Hy meld dat Asisa in 2009 ’n uitbetalingsaanwyser met standaard- mediese gevreesdesiekte-omskrywings bekend gestel het wat jou sal help om verskillende polisse se voordele ten opsigte van die voorgenoemde “groot vier”-siektetoestande te vergelyk. Asisa-lidmaatskappye sal hierdie aanwyser insluit by jou poliskwotasie saam met ’n lys van siektetoestande wat die polis dek en in watter mate.

Die aanwyser dui aan watter persentasie uitbetalings jy sal ontvang vir die vier algemeenste gevreesde siektes gemeet aan die graad van erns van jou siekte.

1

Baie ingewikkeld

Dempsey waarsku egter dat gevreesdesiekteprodukte baie ingewikkeld is met tegniese aspekte en mediese konsepte wat moeilik is om te verstaan.

“Dit sal dus raadsaam wees om ’n finansiële adviseur te raadpleeg om jou te help om die beste en bekostigbaarste versekering vir jou behoeftes te kies. Jy behoort ook tyd in te ruim vir jaarlikse ondersoeke en die nodige toetse om te verseker dat enige probleme so vroeg as moontlik opgespoor word,” sê hy.

“Dit is moeilike tye, maar die waarde van advies en om te sorg jy het genoegsame dekking teen dood, ongeskiktheid en gevreesde siektes, sal dadelik duidelik word indien die onverwagte gebeur.”

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →