Bekende Afrikaanse sanger, skrywer en TV-persoonlikheid, Jak de Priester, gaan die temalied vir die nuwe Koos Roets film, Hoener Met Die Rooi Skoene, skryf en sing.
Luister hier na ‘n lusmaker van die liedjie:
Jak se loopbaan het in 2003 begin, nadat hy die ATKV Crescendo-kompetisie gewen het. Dit het hom die geleentheid gegee om sy eerste album getiteld, Sally Williams Nougat, op te neem. 13 Jaar, 8 albums, 1 digbundel, ’n koffietafel-woordkunsboek en verskeie verhoogproduksies later, is Jak se loopbaan steeds besig om te groei.
“Ons is ongelooflike opgewonde om Jak de Priester aan boord te hê”, sê Alishia van Deventer van Starburst Promosies. “Toe die vervaardigers vir my gevra het om iemand te vind wat die temalied vir die fliek kan skryf en sing, het ek dadelik aan Jak gedink! Sy talent en skryfvermoë is ongelooflik en hy het binne ’n paar dae die basis van die liedjie vir my gestuur. Ek het dadelik geweet dit is die regte besluit en Jak was aan boord!”
Jak vertel: “Dit is vir my baie lekker en ’n groot eer om betrokke te wees by die skryf van die temaliedjie vir Koos Roets se film. Ek het lanklaas iets vir TV of ’n fliek geskryf, so ek was baie opgewonde toe Alishia my kontak om te hoor of ek betrokke wou wees. Dit was ’n uitdaging, omdat ek nog nie die film gesien het nie, en die liedjie moes skryf met slegs die mediavrystelling en rowwe weergawe van die lokprent tot my beskikking. Ek het wel dadelik besef dat dit so ’n bietjie van ’n vyftigs-gevoel moes hê. Die feit dat hierdie ’n riller-komedie is, het my dadelik laat voel dat dit meer lewendig moet wees en die titel van die fliek is ook dadelik ’n liriek wat lekker op die oor val. Ek hoop dit doen eer aan die fliek self en vertel ’n lekker storie wat mense opgewonde gaan maak om die fliek te gaan kyk.”
Hoener Met Die Rooi Skoene, is ’n riller-komedie deur die bekende filmmaker, Koos Roets, wat kykers gaan laat regopsit, ril en skaterlag.
“Dis ’n aweregse, slimsnaakse moordstorie met soveel fyn kinkels dat jy jou asem gaan ophou terwyl jy heerlik lag”, sê Lizz Meiring wat die rol van Bonnie van der Byl, vertolk.
Bonnie is ’n ontvangsdame van die internasionaal-bekende De Waal Teateragentskap. Terwyl sy een aand lustig voorklets op die foon, vermoor iemand haar baas, die suksesvolle – maar minder gewilde – sakeman en impresario, Du Toit de Waal (Deon Lotz).
Sy tref hom, met ’n dolk in sy rug, agter sy lessenaar aan en skakel dan dadelik die polisie. Nadat sy haar bebloede baas van naderby beskou, word sy oudergewoonte flou. Wanneer sy met die flitslig van Konstabel Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë bykom, is die lyk skielik skoonveld…
Dit dek die tafel vir ’n spannende skreeusnaakse riller-komedie vol verrassende kinkels, waarin die ontvangsdame met haar bekkige papegaai (Napoleon) en die hoogsbeneukte, geïrriteerde en grieperige speurder, Kaptein Hendrik Greyling (Louw Venter), sentraal staan.
Gasspelers soos Anton Goosen, Leon Ecroignard, Soli Philander en Goitsemang Lehbyeword is ook te sien in Hoener Met Die Rooi Skoene, wat op 27 Januarie 2017 landswyd vrygestel en versprei word deur Ster-Kinekor Entertainment.
SOSIALEMEDIASKAKELS: HOENER MET DIE ROOI SKOENE
Facebook: https://www.facebook.com/HoenerMovie/
Twitter: @HoenerMovie
Instagram: hoenermovie
Kyk die lokprent hier: https://youtu.be/1xgCBPYCW5Q
SOSIALEMEDIASKAKELS: JAK DE PRIESTER
Facebook: https://www.facebook.com/pages/Jak-De-Priester/211617145571985?fref=ts
Twitter: @JakDePriester