Klipkouers Potgooi gee Afrikaner-entrepreneurs vlerke

“Om klippe te kou…” verwys na hardepad loop. Maar ook na vasbyt, planmaak en te oorkom. Dis dinge waarvoor Afrikaners bekend is.

Só meen Jacques Basson, ‘n Suid-Afrikaanse entrepreneur woonagtig in Brittanje. Om hierdie konsep by mede-Afrikaners – veral bestaande of aspirant entrepreneurs – regoor die wêreld te bevorder, bedryf Basson ‘n nuwe aanlyn-diens, Klipkouers, wat ‘n weeklikse potgooi vir sakeliefhebbers aanbied waarin suksesvolle Afrikaner-sakemanne en impakmakers, wêreldwyd, hul kennis en ervaring met luisteraars deel.

Die doel is om die Klipkouers gemeenskap te help om hul bestaande besigheid, hetsy as eienaar of bestuurder, te verbeter of om ‘n nuwe besigheid te begin waarin hulle hul volle potensiaal kan bereik, en terselfdertyd broodnodige werk in Suid Afrika te skep. Die internet het die internasionale speelveld gelyk gemaak en tesame met die krag van potgooitegnologie (podcasts), is dit die ideale medium om dit te doen. Verder bestaan demografiese grense, regstellende aksie en diskriminasie nie aanlyn nie, sê Basson.

“Toe ek as “internasionale” Afrikaner die eerste keer gesien het hoe mede-Afrikaners, veral kinders, in plakkerskampe woon, het dit my geskud. Ek het bietjie terug gedelwe in die Afrikaner se geskiedenis en sy vermoë om te oorkom en suksesvol te wees. Dit het my gewaarwording van wat dit beteken om ‘n Afrikaner te wees, wakker gemaak, asook ‘n begeerte om my mede-Afrikaners te help. Dis hoe Klipkouers ontstaan het.”

Basson meen met beperkte werksgeleenthede in Suid-Afrika is die beste oplossing om as entrepreneurs eie geleenthede te skep, en dit te bevorder deur middel van internasionale kontakte en netwerke. Klipkouers poog nie om maar net te preek en teoretiese lesings aan te bied nie, maar voorsien besigheidskoling wat in praktiese ervaring en bewese, werklike lewenskennis gevestig is. Hierdeur skep Klipkouers ‘n padkaart en internasionale netwerk vir entrepreneurs.

“Klipkouers bied ‘n maklik-toeganklike aanlynplatform vir kennis, advies, mentorskap en leierskap deur voorbeeld,” sê Basson.

Vir Basson verpersoonlik hierdie onderneming sy passie vir sy mense, taal en vir besigheid. In ‘n geglobaliseerde wêreld met sy vinnige pas, gebruik Basson die krag en trefwydte van potgooitegnologie om te voorsien in die dringende behoefte by baie entrepreneurs en sakebestuurders vir praktiese en bewese advies en mentorskap.

Klipkouers het oor ‘n baie kort periode ‘n groot en baie aktiewe databasis gebou.  Dit bereik 21 000 mense via Facebook elke week, 90 000 per maand asook duisende intekenaars en episodes wat maandeliks afgelaai word.

Die onderliggende doel is om te inspireer, praktiese mentorskap te voorsien, vrae te beantwoord en hulpmiddele beskikbaar te maak aan jong of nuwe entrepreneurs en daardeur waarde toe te voeg ten einde hulle te help om hulle volle potensiaal te ontgin.

Basson glo potgooitegnologie is die prima digitale medium van die toekoms. Dit word aanlyn gedoen, ken geen grense nie, en laat toe dat potgooiers ‘n internasionale gemeenskap van lojale, vertrouende luisteraars kan groei. Potgooiers kry onmiddellike en intieme toegang tot ‘n nis gemeenskap wat kan luister na dit wat hulle self kies, wanneer en waar hulle wil.  Dit skep ook ‘n addisionele aanvraag vir sosiale-media bemarkingsdienste en hulpmiddele.

In sy weeklikse onderhoude op Klipkouers het Basson reeds die verhale en ervaring van talle suksesvolle Afrikaner-sakemanne na sy luisteraars gebring. Dit sluit in suksesvolle bekendes soos Kobus Wiese, voormalige Springbok-rugbyspeler en koffiehandelaar; Louis van der Watt, medestigter van Atterbury, ontwikkelaars van Afrika se grootste winkel- en kantoorsentrum, die Mall of Africa; Rohan Vos, die bekende stigter van Rovos Rail wat wêreldwyd bekend is vir privaat luukse treinreise; Gert-Johan Coetzee, Suid-Afrika se top-modeontwerper en voorsiener aan Hollywood se A-lys sterre; Adam Tas, ‘n gewilde Afrikaanse musikant  wie ook sy eie onderneming, Loopgraaf Films, bedryf; asook vele andere. Die onderhoude is op Klipkouers se webtuiste en Itunes beskikbaar.

Klipkouers brei in Februarie uit met ‘n addisionele diens wat as Binnekring bekend sal staan en wat ‘n eerste vir Suid-Afrika is. Binnekring is ‘n eksklusiewe intekenaarsdiens met ‘n verskeidenheid van praktiese besigheids-hulpmiddele. Die diens kan gevind word by www.klipkouers.com/binnekring.

Basson het self ‘n suksesvolle loopbaan agter hom, eers in die korporatiewe wêreld en later as ondernemer wie sy eie multi-miljoen Rand besighede opgebou het. Nadat hy aan die Vrystaatse Universiteit studeer het, het hy hom by Coca-Cola aangesluit. Daarna het hy in Suid-Afrika en in die buiteland gewerk, onder andere by Parmalat, Ecolab, Luxoticca and Polaroid Eyewear, voordat hy sy eie kommersiële skoonmaakbesigheid, VanBroc Cleaning, in Brittanje begin het. Dié het hy gevolg met ‘n gesamentlike onderneming in Texas in die VSA, met Klipkouers die jongste toevoeging tot sy besigheidsfamilie.

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →