Kaleidoskoop maak nuwe album se naam bekend!

Die talentvolle akoestiese musiekgroep, Kaleidoskoop, het dit reggekry om die afgelope tien jaar die harte van musiekliefhebbers regoor die land te verower.

Hierdie Huisgenoot Tempo-bekroonde (Beste Kontemporêre Album 2012) en Ghoema-genomineerde (Nuweling van die Jaar, Beste Kontemporêre Album, Musiekvideo van die Jaar) sang-duo is self verantwoordelik vir elke aspek van hulle musiek en bied aan luisteraars ’n hoendervleismooi akoestiese klank, vermeng met ’n magiese kombinasie van melodieë en instrumente – wat nie net aanklank vind by gehore van alle ouderdomme nie – maar ook getuig van hulle talent, passie en sinergie.

Die groep bestaan uit Jouba (stigterslid) en Anique Jordaan.  Oor die jare, het hulle drie suksesvolle albums en ’n DVD uitgereik. Platsak (2010), wat in ’n strandhuis in Vleesbaai vervaardig is, is die ideale album om met ’n glasie rooiwyn voor die kaggelvuur te geniet. Die tweede album, Vars Uitgekerf, het talle benoemings en toekennings ingepalm en bevat hulle spesiale weergawe van die Cranberries-treffer, Zombie, wat die musiekwêreld van dag een af aan die gons gehad het. Album nommer drie, Acoustic Covers, is saam met ’n DVD uitgereik en bestaan uit Kaleidoskoop se unieke verwerkings van groot en bekende treffers deur ander kunstenaars.   

Hulle splinternuwe oorspronklike album is getiteld GUNSTELING SEISOEN.  Dit is bykans vier jaar sedert hulle ‘n oorspronklike album vrygestel het.  “Die afwagting in ons harte groei by die dag”, sê Jouba en Anique.  “Ons hoop en glo, met elf nuwe oorspronklike liedjies uit ons albei se penne, asook twee Engelse verwerkings van bestaande liedjies, dat dit die lang wag wer gaan wees!”.   Die eerste enkelsnit vanaf die nuwe album getiteld, Wegbreek, is reeds gedurende November 2016 aan radiostasies landwyd uitgereik en die musiekvideo vir hierdie liedjie word eersdaags bekendgestel.

GUNSTELING SEISOEN word op 24, 25 en 26 Maart 2017 by die Atterbury Teater in Pretoria bekendgestel en kaartjies kan by Computicket bespreek word.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://web.facebook.com/Kaleidoskoopband/

Twitter: @kaleidoskoop2

Webblad: www.kaleidomusiek.co.za

Instagram: @kaleidoskoop_2

YouTube: https://www.youtube.com/user/Kaleidoskoopband

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →