Madeliefie Makietie-fees kry ’n nuwe baadjie met die kampeerterrein wat herstel word

Die gewilde Madeliefie Makietie-fees wat vanjaar op die pragtige Weskus-stranddorp Strandfontein plaasvind op 29 en 30 September, ontlok groot opgewondenheid in die Matzikama-streek, veral met die nuwe voorkoms vir die A-blok kampeerterrein.

Namaqua Engineering is tans besig om herstelwerk te doen aan die Strandfontein A-blok-terras (grondwal). Daar is vroeër gevind dat die nie-gekompakteerde grondwal oor etlike jare ongeveer 25 – 50mm vertikaal beweeg wat veroorsaak het dat die ablusieblokke beskadig is. Hierdie insakking het meegebring dat die ablusiegeboue gekraak en tot ’n mate sywaarts na die nie-ondersteunde kant beweeg het.

Die skuins wal is reeds ontbos, die erg beskadigde geboue is gesloop en ’n deel van sowat 1400 m³ bokant van die terras is uitgehaal. Basiese dienste soos watertoevoer, riolering en elektrisiteitvoorsiening na dertien toekomstige ablusiegeboue word voor terugvulling geïnstalleer. Die verwyderde deel terrasgrond word gemeng met ingevoerde, fyner dorbankmateriaal, teruggeplaas in lae en deeglik gekompakteer.

“Die skuins wal word herstel, teruggevul, afgerond en beplant met grondbedekkers deur die gebruik van ’n omgewingsvriendelike “Duramesh”-stabiliseringmateriaal.

Die eindresultaat beloof ’n baie netjieser en meer stabiele terras te verskaf waarop gekampeer kan word en ablusiegeboue weer gebou kan word,” sê argitek Chris White.

Daar word ook beplan om alle ander ablusiegeriewe, sowel as “chalets” op Strandfontein op te knap vir benutting tydens die fees. Paaie, strukture en omheinings wat vervalle is, sal ook aandag geniet.

“Daar word beplan om hierdie werk teen 15 September af te handel. Ons bedank intussen alle rolspelers vir hul enorme bydrae in hierdie verband,” sê White.

Vanjaar se fees sluit ook 15 van ons land se top kunstenaars in, met onder andere Bobby van Jaarsveld, Willem Botha, Die Broers, Pieter Koen, Andriëtte, Leah, Brendan Peyper, Lianie May, Juanita du Plessis, Jay, Neil Somers, Klikkerland, Lollos en Dobbelsteun en Lee Scott.

“Ek sien baie uit daarna om by die Madeliefie Makietie te kom kuier vanjaar veral in die nuwe tuiste van Strandfontein aan die Weskus. Gaan ’n lekker opskop wees so by die see!” vertel Jay opgewonde.

Die kaartjies vir vanjaar se Madeliefie Makietie-fees is nou beskikbaar. As jy dit voor 31 Augustus vanjaar by enige Computicket, Shoprite/Checkers of House & Home of aanlyn koop, kry jy 20% EarlyBird-kaartjie afslag op Computicket.

Mej. Madeliefie sal vanjaar op Woensdag, 6 September, om 19:30 by die sportsaal op Vredendal plaasvind. Die kaartjies vir die geleentheid beloop R200 per persoon en sluit ’n heerlike ete in. Die tema van die geleentheid is Moroccan nights en die kleredrag is semi-formeel/Marokkaans. Die gewilde Juan Boucher is die gaskunstenaar wat die gehoor deur die loop van die aand gaan vermaak. As jy wil deelneem aan Mej. Madeliefie, meer oor die reëls van die kompetisie wil lees en ook die inskrywingsvorm aanlyn wil voltooi, kan jy gerus op die volgende skakel klik http://bit.ly/MejMadeliefie

Madeliefie Makietie bied vanjaar Weskus Touchies op 29 en 30 September aan. Daar is groot pryse om te wen. Die wedstryde sal op die Strandfontein-strand voor die lewensreddersgebou gehou word en spanne kan tussen 10:00 en 14:00 op 29 September inskryf. Jou span moet uit sewe spelers bestaan en inskrywings is R250 per span. Maak seker om jou span solank gereed te kry vir groot opwinding en pryse.

Besoek www.madeliefiemakietie.co.za vir meer inligting, die volledige program en om jou verblyf te bespreek. Kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word of by 0861 915 8000.

Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op Facebook (facebook.com/MadeliefieMakietieSA), Twitter (twitter.com/madeliefieM) en Instagram (instagram.com/madeliefiemakietie/).

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →