Die Hantam Vleisfees is een van die bekendste feeste wat die Namakwaland nóg aangebied het en vanjaar is dit reeds die 28ste keer wat hierdie fees op Calvinia plaasvind.
Feesgangers kan vanjaar – op Vrydag, 25 en Saterdag, 26 Augustus – uitsien na nege van ons land se top kunstenaars, onder andere Brendan Peyper, Leah, Wicus van der Merwe, Die Klipwerf Orkes, Dillon Lerm, Christo en Cobus, Sam en Calla, Viljoen Retief en Armand Steenkamp.
“Die 28ste fees gaan ten spyte van die droogte aangebied word en beloof weer eens om ’n bielie van ’n fees te wees, met heerlike skaapvleis, roosterkoek en eiesoortige vermaak soos net die Hantammers dit kan doen. Ons sien uit na nóg ’n suksesvolle Hantam Vleisfees,” sê Lizette Lambrechts van die Hantam Vleisfees.
Daar sal vanjaar weer op Saterdag, 26 Augustus, ’n vleiseet-kompetisie wees en inskrywings word op die terrein gedoen. ’n Stuk vleis van een kilogram word verorber in dié kompetisie en daar is groot pryse te wen!
Die sterkman-kompetisie sal ook vanjaar by die fees plaasvind en sal op die Saterdag geskied. Deelnemers kan hiervoor inskryf as dit oor die luidsprekers aankondig word. Daar is vier nommers waarin deelnemers gaan meeding, onder meer die ‘tyre flip’, voersakke op ’n hoop balanseer en swaar voorwerpe optel.
Stalletjie-aansoeke vir vanjaar se fees is reeds oop en aansoeke om ’n stalletjie op te rig kan by Lizette Lambrechts gedoen word deur ’n e-pos te stuur na vleisfees@klk.co.za.
Om seker te maak dat jy nie vanjaar se fees misloop nie, kan jy jou verblyf bespreek op die Hantam Vleisfees-webblad. Daar is 19 gastehuise om van te kus en te keur. Kaartjies sal by die hekke beskikbaar wees op die dag van die fees en toegang sluit die vasdans en vertonings van kunstenaars in.
Besoek www.hantamvleisfees.com vir meer inligting, die volledige program en om jou verblyf te bespreek. Kaartjies sal slegs by die hekke te koop wees.
Bly op hoogte van die jongste Hantam Vleisfees-nuus op Facebook (www.facebook.com/CalviniaVleisfees/ ), Twitter ( https://twitter.com/ ) en Instagram (www.instagram.com/hantamvleisfees/).