“Die vraag na kaartjies vir vanjaar se Afrikaans is Groot was só oorweldigend, dat ons twee ekstra vertonings bygevoeg het,” vertel Brendon Hargroves, uitvoerende vervaardiger van Afrikaans is Groot.
“Kaartjies vir dié konserte het soos soetkoek verkoop. Die aanvraag aanlyn was selfs groter as met Black Friday-verkope. Sewe vertonings het uitverkoop en ondersteuners van Afrikaanse musiek landswyd het ons oorrompel met versoeke om nóg vertonings aan te bied,” vertel hy.
Dié ekstra vertonings word op Donderdag, 30 November om 19:30 en Sondag, 3 Desember om 13:00 aangebied.
“Ons is baie opgewonde oor dié twee ekstra vertonings en natuurlik ook oor Afrikaans is Groot se nuwe tuiste by die Sun Arena by Time Square in Menlyn Maine, Pretoria. Gehore kan beslis uitmuntende gehalte verwag,” brei Hargroves uit.
Konsertgangers kan uitsien na optredes deur Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld, Theuns Jordaan, Karlien van Jaarsveld, Jay en Steve Hofmeyr. Nóg kunstenaars word binnekort vir hierdie vertonings bekend gemaak.
Ongeveer 85,000 konsertgangers word by Afrikaans is Groot verwag, wat dit die grootste musiekproduksie in Suid-Afrika maak. Afrikaans was beslis nog nooit só groot nie.
Kaartjies vir die twee ekstra vertonings is van Woensdag, 30 Augustus om 09:00 by Computicket-kiosks, Shoprite/Checkers en House & Home landswyd beskikbaar. Kaartjies is ook aanlyn by Computicket of by 0861 915 8000 beskikbaar.