Steve Hofmeyr neem nuwe album op

Steve Hofmeyr het baie om te vier. Sy 30ste album is pas opgeneem, hy het sy 11de boek vrygestel en op 53 weer pa geword. Dit is juis vir hierdie redes dat Feeslied ’n baie gepaste eerste enkelsnit vir sy nuwe album, SKREE, is.

Sy dubbel-platinumalbum, Country, was in 2016 een van die topverkopers in Suid-Afrika. Nou kan sy ondersteuners uiteindelik uitsien na SKREE, sy nuutste oorspronklike album, vir sy SKREE-toer in 2018.

“Ek word pal geïnspireer deur mense, idees en seëninge. Ek was vir die eerste keer in jare weer lus om te skryf. SKREE is die resultaat,” het hy gesê voordat hy sy internasionale toer na Australië en Nieu-Seeland afgeskop het. Hy bring al jare reeds ’n voorsmakie van Suid-Afrika na duisende bewonderaars regoor die wêreld.

Hy het teruggekeer huis toe vir die publiseer van sy 11de boek en sesde roman, Die Onaantasbares (The Untouchables), ’n misdaadroman.

“Daarna begin die toer. Ledigheid en ek is onversoenbaar,” sê die 53-jarige, wat onlangs weer pa geword het. Sy dogter, Romy-lee, is op 19 Junie 2017 gebore. Hy lag: “As jy gedink het ek is klaar, skaam jou …”

Hierdie Pretoria-gebore, ongeneesbare Blou Bul en dwarstrekkerige aktivis, vermaak Suid-Afrika al drie dekades lank. Tog ken sy kreatiwiteit geen grense nie. Hy het begin as ’n jong rocker en dramastudent, eers op die verhoog en toe in hoofrolle in rolprente, blyspele en op die televisie in onder meer Agter Elke Man, Kampus, Geen Held, Dis Hoe Dit Is, Platteland, Pretville en Treurgrond.

’n Voltydse loopbaan het gevolg, wat uitgeloop het op een van Suid-Afrika se besigste en mees hardwerkende kunstenaars, met ‘n gewilde en kragtige kulturele teenwoordigheid in Suid-Afrika.

Hy het onder meer 200 liedjies, wat opgeneem is, geskryf en vermaak Suid-Afrikaners weekliks in uitverkoopte konserte met sy onvergeetlike treffers en growwe stem, sin vir humor, nostalgiese huldeblyke, pittige sêgoed en sterk sosiale kommentaar, wat geen mens of steen onaangeraak laat nie.

Volgens hom, is sy resep om nooit jou gehoor te onderskat nie en nooit op te hou leer nie. Hy is vinnig bereikbaar op sosiale media, met ’n groot aantal volgers op Facebook (416k), Twitter (245k) en Instagram (27k). “Soms moet jy ‘n bietjie skree.

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →