Ná die wegholsukses van sy dubbelalbum, Kô lag ‘n bietjie, is Andries Vermeulen terug met ’n versameling van sy beste musiek en stories. Dié nuwe dubbelalbum, In Afrikaans, spog met tien liedjies en dertig stories wat luisterplesier verseker.
Hoewel die nuwe album steeds Vermeulen se stempel dra, wys hy ook nuwe dele van sy persoonlikheid, met ’n meer volwasse aanslag. Die eerste CD bevat die musiek (10 Liedjies) en hy het van sy musiekvriende soos Elvis Blue, Adam Tas en Steve Hofmeyr ingespan om van die musiek te skryf.
Die tweede CD bevat die stories (30 Stories), waarmee Vermeulen self vorendag gekom, of geleen het, soos hy dit regoor die land gehoor en geniet het.
“Dit is sekerlik die beste samevatting van storievertelling en liedjies wat ek nog gedoen het. Die storievertellings op die album sal jou laat lag, maar ook onthou van beter dae. Dit sal jou laat vergeet van jou probleme. Dit weerspieël die nostalgie en waarde van storievertel in Afrikaans op sy beste,” vertel hy.
Vermeulen is alombekend as ’n Afrikaanse grapmaker en sanger met ’n suksesvolle kykNET-program, Oppie Stoep, wat weekliks uitgesaai word. Kô lag ‘n bietjie het meer as 24 000 kopieë verkoop en was vir ses opeenvolgende weke in 2015 onder die top 20-verkopers. Dié album het in 2016 ook ’n kykNET Ghoema-toekenning vir beste humor-album ingepalm en was genomineer vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning.
Andries Vermeulen se dubbelalbum, In Afrikaans, sal van middel-September in Musica, CNA en Pick n Pay beskikbaar wees, asook vir digitale aankope op iTunes en JOOX vir streaming.