Die Madeliefie Makietie-fees wat oor slegs ’n paar dae – op Vrydag, 29 en Saterdag, 30 September – feesgangers, topkunstenaars en stalletjiehouers op Strandfontein aan die Weskus gaan verwelkom, wek groot opwinding. Die hele dorp is in rep en roer.
Altesame 23 van ons land se topkunstenaars gaan vermaak aan feesgangers bied. Hulle is onder andere Emo Adams, Bobby van Jaarsveld, Juanita du Plessis, Willem Botha, Die Broers, Pieter Koen, Andriëtte, Leah, Brendan Peyper, Lianie May, Jay, Neil Somers, Klikkerland, Lollos, Dobbelsteun, Lee Scott, Stephan Vermaak, Werner Coetser en Vito.
Daar is drie verhoë waar hierdie topkunstenaars sal optree. Die amfiteater is in die perdeskoen, die Kommetjie-verhoog is by die restaurant en die Seetuin-arena is ’n paar meter van die pretritte af.
“Ons visie en doelwit is om ’n vriendelike en veilige familiefees aan te bied. Daarom het ons seker gemaak daar is iets vir jonk en oud, van ’n Maltrap-fietsroete en ’n staproete tot die baie gewilde raakrugbywedstryd en nog vele meer,” vertel Stokkies van Zyl, organiseerder van Madeliefie Makietie.
Die hekke sal op Vrydag, 29 September om 10:00 open om die feesgangers by Madeliefie Makietie 2017 verwelkom. Met besoekers se aankoms by die fees moet hulle by die feeskantoor aanmeld vir diegene wat kaartjies benodig en parkering-aanwysings. Daar sal sekuriteit in die parkeer-area wees om seker te maak dat alle voertuie veilig is.
Inwoners van Strandfontein en hul besoekers wat oorslaap by hul huise moet ook by die feeskantoor aanmeld en kry dan plakkers omdat slegs húlle met voertuie die dorp kan inry en by hul huise kan gaan parkeer. Kampeerders kry ook ’n plakker en sal gewys word watter roetes om te volg tot by hul staanplek.
Daar is drie verhoë by vanjaar se fees en feesgangers kan gratis gebruik maak van trekkers en sleepwaens wat na die verskillende verhoë in die dorp sal ry indien jy nie wil stap nie.
Daar gaan ’n horde stalletjies in die strate van Strandfontein wees en stalletjiehouers rapporteer ook aan die feeskantoor langs Computicket. Hulle kry ’n pakkie met alles in – feesbandjies, feeskaart, plakkers en die tye. Vir enige navrae kan Piet Otto by 082 380 2167 gekontak word.
Dwelms, wapens, alkohol, koelhouers, gazebo’s, sambrele, braai’s en opname-toerusting word nie by die fees toegelaat nie. Jy mag wel ’n kamera by die hekke inneem en die stalletjies sal verversings voorsien.
Indien jy gebruik gaan maak van die beskikbare pendeldiens tydens die fees en wonder oor die vertrekpunte en tye, kan jy gerus op die skakel hieronder klik waar jy alles oor die pendeldiens kan lees.
http://madeliefiemakietie.co.za/madeliefie-makietie-shuttles/
Besoek www.madeliefiemakietie.co.za vir meer inligting, die volledige program en om jou verblyf te bespreek. Kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word of by 0861 915 8000.
Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op Facebook (facebook.com/MadeliefieMakietieSA), Twitter (twitter.com/madeliefieM) en Instagram (instagram.com/madeliefiemakietie/).