Die geskiedenis van musiekfeeste is die naweek herskryf toe die jaarlikse Madeliefie Makietie-fees met reuse sukses vir die eerste keer op die Weskus stranddorpie Strandfontein aangebied is.
“Ons stoutste verwagtinge is oortref met die deelname van die gemeenskap en die oorweldigend positiewe reaksie wat ons sover ontvang het. Die manier waarop die fees daarmee geslaag het om sakelui, kunstenaars, inwoners en feesgangers saam te bring, is verblydend,” het Stokkies van Zyl, voorsitter van die feeskomitee gesê.
“Ons het bewys dat die gemeenskap steeds saam wil kom om vermaak te geniet en saam gesellig te verkeer. Die fees moes egter ’n ervaring oor verskillende vlakke skep en dit is presies waarmee ons op Strandfontein geslaag het.”
Feesgangers was dit eens dat dit die fees met die mooiste arena in die land is. Die hoofverhoog in die Perdeskoen was omraam deur die see op die agtergrond wat deur die dag en skemeraand in verskillende kleure getooi was.
Feesgangers kon op die strand baljaar, tussen die stalletjies langs die strand loop, by die kuiertente sit en heerlike kos eet en ’n drankie geniet terwyl hulle na die pragtige see-uitsig kyk en ook die musiekoptredes geniet met die see op die agtergrond.
Daar was drie verhoë, die Kommetjie-verhoog op die sand by die rotse naby die Kommetjie-restaurant, die seetuin-kuierverhoog en die hoofverhoog in die perdeskoen-amfiteater. Hier het meer as 23 van ons land se top kunstenaars soos Bobby van Jaarsveld, Willem Botha, Juanita du Plessis, Brendan Payper, Leah, Jay, Lee Scott, Lianie May, Emo Adams en ander opgetree en die feesgangers vermaak.
Volgens die gewilde sanger Bobby van Jaarsveld was die fees ongelooflik en wil hy weer volgende jaar kom deelneem. “Julle weet nie hoe bevooreg julle is om hier te bly nie. Ons almal wil hier kom woon.”
Daar was ook heelwat aktiwiteite vir die hele gesin, soos pretritte vir die kinders, optredes deur Klikkerland, Lollos en Lettie, raakrugby-wedstryde en die maltrap-fietsryroete. Feesgangers het met wingerdtrekkers en -waentjies tussen die verhoë gependel.
Stokkies van Zyl het ook ’n spesiale Oorkonde van Erkenning aan die aanvanklike stigters van die oorspronklike Rittelfees bekend gemaak. Die oorkonde aan Louw Van Zyl, Atman Engelbrecht, Chris Basson en Gideon Gouws, die aanvanklike stigters en bestuurders van die Rittelfees, gee erkenning aan die innovasie wat die konsep van musiekfeeste in Suid-Afrika gevestig het en wat vandag in Madeliefie Makietie voortleef.
Tania Burger Fouché van die Strandfontein Belastingbetalersverenigingkomitee (SBV) het op Facebook haar dank uitgespreek: “Dankie aan almal wat saam op ons Juweeldorp gemakietie en feesgevier het en elkeen se ingesteldheid om die SBV se Visie “maak dit jou trots” gestand te doen. Groot dankie aan elke kunstenaar, uitstaller, besoeker van heinde en vêr en veral ons SBV-lede, inwoners, eienaars en plaaslike boere en ook werkers wat die fees positief omarm, ondersteun en self fisiese harde werk ingesit het.
“Ons wil ook dankie sê aan die Makietie-feeskomitee onder leiding van Stokkies, ander private firmas en die munisipaliteit vir die opgradering van en verbeteringe aan die geriewe van ons pragtige dorp en ook die goeie samewerking en verstandhouding wat deurentyd gehandhaaf is. ’n Spesiale dankie aan alle wetstoepassingspersoneel wat voortdurend hul pligte onbaatsugtig uitgevoer het.
“Dit was ’n plesier en voorreg om met elkeen van julle saam te werk en volgehoue samewerking vir die toekoms te verseker.”
Kyk wat het die feesgangers oor die fees te sê:
“Was ’n fantastiese fees! Het die hele uiteensetting baie geniet. Lekker sunny, see en vakansie-atmosfeer wat in die dorp geheers het. Love dat daar oral naby waar jy beweeg het, ook stalletjies was. Was heerlik om in ’n skoon en netjiese dorp te beweeg. Selfs die skoon badkamers het bygedra tot ’n lekker tyd by die fees. Dankie aan almal wat so hard gewerk het!” – Amanda Beets.
“Dit was ’n wonderlike belewenis. Sal dit verseker vir almal aanbeveel. Die musiek was uit die boonste rakke. Die atmosfeer was pure Afrikaans en dis wat dit onvergeetlik maak. Ons maak volgende jaar weer so.” – Naomi Frick Brits.
“Dit was ’n heerlike fees. Die dorp en julle uitleg verleen hom uitstekend vir so ’n fees. Die organisasie was uitstekend. Hou so aan. Ons sal beslis weer kom.” – Johan Pieter Huisamen.
“Dit was FANTASTIES! Great venue, ongelooflike organisasie… Lekker entertainment vir die kinders ook. BESLIS ’n wenner… elke sent die moeite werd. Julle kan opreg trots wees op hierdie puik fees!!! DANKIE!” – Mandi Louw.
Besoek gerus Madeliefie Makietie se sosiale media vir foto’s en video’s wat tydens die fees geneem is.
Facebook: @MadeliefieMakietieSA
Twitter: @MadeliefieM
Instagram: @MadeliefieMakietie
Webtuiste: www.madeliefiemakietie.co.za
Aerial foto’s verskaf deur Henlo du Toit Photography.