Willemsrivier: ’n paradys vir kranige stappers en bergfiets-entoesiaste

Al ooit gehoor van Nieuwoudtville? Dit word beskou as die bolplanthoofstad van die wêreld, met ’n reuse verskeidenheid unieke plant- en selfs grondsoorte. Jaar ná jaar keer toeriste terug na hierdie versteekde stukkie Namakwaland-paradys om hulle te verwonder aan die natuurskoon en ou-wêreldse sjarme.  

En moenie ’n fout maak nie – avontuurlustiges wat reeds agter die kap van die byl is, sweer mens kan nie genoeg kry nie,” sê Erika Kotzé, mede-eienaar van die familieplaas Willemsrivier.

Willemsrivier is geleë net buite Nieuwoudtville, sowat 950 meter bo seespieël op die Bokkeveld-plato. Dis ’n gewilde bestemming vir diegene wat wil wegbreek van die gedruis van die stad, of net lus het vir ’n wegbreekkans van hul gewone roetine. En ook natuurlik, vir dié van ons wat lief is vir die buitelewe. “Die plaas het oorgenoeg aktiwiteite om selfs die mees avontuurlustige besoeker besig te hou,” sê Arend Kotzé, Erika se huweliksmaat en mede-eienaar van die plaas.

Die twee bergfietsroetes – OsHoek naby OuPlaas en die Rooigrondroete – neem besoekers op ’n asemrowende avontuur deur die unieke landskap. Oshoek is ’n uitdaging vir selfs die mees gesoute bergfietsryers, terwyl Rooigrond behoorlik soos ’n reus se speelgrond is met al sy rotsformasies. Beide die roetes kan ook aangedurf word as 4×4-roetes.

“Die plaas is ook ’n droom wat waar word vir stappers. Maak net seker jy bring stapskoene, ’n kamera en ’n waterbottel saam!” skerts Erika. Elke staproete kan gevolg word met behulp van ’n kaart, wat jou ook sal inlig hoe ver die roete is en hoe lank dit jou sal neem om dit te voltooi.  Interessante inligting oor elke roete is ook beskikbaar.

In die Namakwalandse blomtyd word die roetes ’n blomparadys en regdeur die jaar kan jy jou verkyk aan die historiese geboue en groot versameling inheemse bolplante. In Februarie en Augustus is dit skaapskeertyd (Willemsrivier is ’n werkende plaas), wat altyd sorg vir groot pret.

Die plaas se moderne geskiedenis dateer terug na 1745. Ou geboue wat te siene is, sluit in die Smutz/Maritz Kantoor, ou skool, tronk en ’n lang huis asook die Joodse Winkel en McGregor-huis. Daar is ook ’n ou “hulp”-kerk, trapvloer en begraafplaas.

Opgeknapte geboue op die plaas sluit in die gastehuise BoetaPaul, OumaMiemie, Blomhuis, Peperboom, Gletser and JoodseWinkel. Dit is in hierdie pragtige ou konstruksies waar gaste kan tuisgaan en die natuurskoon, historiese rykdom en plattelandse rustigheid van die plaas kan geniet tydens hul verblyf. Die huise se dekor is veral besonders en elke item is met die hand gekies.

“Veral gaste wat ons besoek vir bergfietsry en stap keer dikwels terug, en het altyd die grootste bewondering vir die plaas se verskeidenheid aantreklikhede. Versigtig wees as jy hier kom bly; jy mag dalk nooit wil terugkeer huistoe nie!” vertel Erika en Arend.

Vir meer besonderhede oor Willemsrivier, gaan na willemsrivier.com of besoek hul Facebookblad, Twitter of Instagram.

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →