Sedert sy eerste kennismaking in 1993 met oorlede Mark Behr se debuutroman, Die reuk van appels, het Johan van der Merwe dié besondere werk se potensiaal vir die teater onmiddellik raakgesien. Van der Merwe het in 2015 saam met Rudi Sadler die teatermaatskappy Theatrerocket gestig en Die reuk van appels was heel bo-aan hul lys van werke wat as produksies vir die verhoog verwerk kon word.
“Ek het oombliklik besef dat hierdie werk net die beste versorging verdien vir toneelspel, veral as hulde aan Mark ná sy ontydige dood in 2015,” sê Van der Merwe.
“Vir verwerking van die oorspronklike teks het ons besluit op Johann Smith, ’n veelsydige skrywer van beide TV- en toneeldraaiboeke, en Lara Bye (Yellowman, London Road, Oscar en die Pienk Tannie, Vaslav) is aangestel as regisseur. Die jong akteur Gideon Lombard vertolk die hoofrol en maak met Die reuk van appels sy solo-teaterdebuutspel. Lombard het sedertdien ook die 2017 Kanna-toekenning vir beste akteur ingepalm vir sy spel by vanjaar se KKNK, waar dié toneelstuk ook vir die heel eerste keer op die planke was.
Die reuk van appels volg die lewensbestaan van die elfjarige Marnus en sy beste vriend, Frikkie. Dit is 1973 – ’n tyd waar apartheid in Suid-Afrika floreer ten spyte van toenemende kritiek en druk op ’n plaaslike en internasionale front. Hulle is egter salig onbewus hiervan; hulle stel belang in visvang en walvisse, en aanvaar die verdeling van Suid-Afrikaanse burgers op grond van velkleur as ’n gegewe.
Marnus se pa is ’n generaal-majoor in die Suid-Afrikaanse Weermag met ’n heeltemal vierkantige ken. Sy ma is musikaal en, na sy mening, die mooiste vrou in die wêreld. Sy ouer suster is liberaal en slim en iriteer hom soms. Hul kleurlinghuishulp, Doreen, gaan eendag hemel toe omdat sy nie suiker steel nie. Marnus word blootgestel aan die realiteit van internasionale politiek wanneer ’n generaal van Chili vir ’n tyd by sy gesin kom kuier.
Dit is hier waar die storie ’n wending neem en Marnus gekonfronteer word met vrae oor menswees en manwees, oor dit wat reg en verkeerd is. ’n Skokkende ontdekking ruk sy alledaagse bestaan om alles vir altyd te verander. Vanaf daardie beslissende oomblik kleef die reuk van appels aan alles wat Marnus raak.
Nadat dit met verdere lof ontvang is met ’n reuse hoeveelheid uitvoerings by die Grahamstad Kunstefees, Vrystaat Kunstefees, die Staatsteater in Pretoria en Aardklop Kunstefees, wys Die reuk van appels vir die eerste keer in Kaapstad, tans by die Fugardteater. Daar is vyf uitvoerings per week en die speelvak eindig op Saterdag, 11 November. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Computicket teen R165 per persoon. Die reuk van appels het ’n ouderdomsbeperking van 16 vir Seks, Naaktheid, Geweld, Sterk Taal en Vooroordeel.
Vir meer inligting kan Die reuk van appels se webtuiste besoek word by www.diereukvanappels.co.za. Besoek ook die Facebook, (@diereukvanappels), Twitter (@ReukVanAppels) -en Instagram-blad (@diereukvanappels) vir regstreekse nuus oor uitvoerings.