Bekroonde draaiboekskrywer, Aaron Sorkin, maak sy debuut as regisseur met ’n aksiebelaaide, spanningsdrama oor die lewe van Olimpiese skiër en ondergrondse dobbelkoningin, Molly Bloom.
Sorkin, wat bekend is vir sy werk op lokettreffers, soos The Social Network, Steve Jobs, Moneyball, The American President en A Few Good Men, het self die draaiboek vir MOLLY’S GAME geskep – met behulp van Molly Bloom se boek en joernale – en dit reggekry om haar storie op ’n aangrypende manier op die grootskerm vas te vang. “Sorkin kry dit reg om jou te vermaak en te fassineer met hierdie wilde verhaal, wat deur middel van ’n puik groep akteurs vertel word,” meen The Hollywood Reporter se Todd McCarthy.
MOLLY’S GAME vertel die verhaal van ’n pragtige en kompeterende sportvrou (Jessica Chastain), wat vir ’n dekade lank eksklusiewe, hoë risiko, ondergrondse poker-kompetisies gehou het, voordat sy een aand deur 17 FBI-agente, met outomatiese gewere, gearresteer is. Hierdie aksiebelaaide rolprent wys hoe sy probeer om haar spelers, wat Hollywood-bekendes, sporsterre en besigheidsmagnate insluit, te beskerm gedurende die hofsaak wat volg en hoe dinge warm word wanneer sy besef dat die Russiese mafia ook betrokke is. Haar enigste bron van ondersteuning is haar prokureur, Charlie Jaffrey (Idris Elba), wat gou besef dat daar baie meer agter die storie is as wat die skinderkoerante vertel.
Die fliek is in September 2017 by die Internasionale Rolprentfees in Toronto amptelik bekendgestel en het reeds verskeie toekennings opgeraap, waaronder twee Loopbaanprestasietoekennings vir Aaron Sorkin by die Zürich–rolprentfees en die Internasionale Rolprentfees in Denver. Dit is ook aangewys as die Gehoorgunsteling tydens die Mill Valley Film Festival.
Bekroonde aktrise en vervaardiger, Jessica Chastain, wat bekend is vir haar rolle in flieks soos Interstellar, The Martian, The Disappearance of Eleanor Rigby en Miss Sloane speel die rol van Molly Bloom. Volgens rolprentkritici lewer sy ’n uitstaand vertoning in die rol en daar word voorspel dat sy moontlik ’n toekenning of twee gaan inpalm. Idris Elba (American Gangster, Thor, Pacific Rim, Star Trek Beyond) en die multi-bekroonde Kevin Costner (Dances with Wolves, Robin Hood: Prince of Thieves, Tin Cup, The Postman, Message in a Bottle, The Guardian) lewer ook indrukwekkende vertonings, terwyl bekendes soos Michael Cera, Jeremy Strong, Justin Kirk, ensovoorts ook in die fliek te sien is.
MOLLY’S GAME bevat die perfekte kombinasie van aksie, spanning en intrige om kykers vasgenael te hou en eindeloos te beïndruk. Deur middel van ’n slim saamgestelde draaiboek, knap regie en uitstaande toneelspel, leer jy vir Molly Bloom ken en word jou vooropgestelde idees, oor wie sy is, uit die weg geruim. Dis ’n storie oor ’n sterk, ambisieuse vrou, wat dit reggekry het om ‘koningin’ te kraai in ’n manswêreld en oor die prys wat sy daarvoor moes betaal.
Die fliek word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment en sal landswyd vrygestel word op 12 Januarie 2018.
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/pg/MollysGameMovie/
Twitter: @Mollys_Game
Instagram: @mollysgamemovie