Denice Marais sangeres bedank Eden Raad vir hul ondersteuning

Denice Marais, ‘n sangeres van die Hessequa-streek, is op 10 Desember 2016 gekroon as die Suid-Afrikaanse Karaoke kampioen.

Kort na Denice se bedanking aan die Eden DM Raad (vlnr): Monde Stratu – Munisipale Bestuurder, Denice Marais – Suid-Afrikaanse Karaoke Kampioen, Rdl. Memory Booysen – Uitvoerende Burgemeester en Rdl. Theresa Van Rensburg

Sy het kort daarna in samewerking met Eden Distriksmunisipaliteit (Eden DM) , se Raadslid Theresa Van Rensburg en vele ander rolspelers begin werk aan ‘n plan om geld in te samel, wat haar reis-en verblyfkoste in Finland by die Karaoke Wêreldkampioenskappe in Finland moontlik sou maak.

Tydens ‘n Eden Distriksraadvergadering op 22 Januarie 2018 het Denice haar dank oorgedra aan alle raadslede vir hulle volgehoue ondersteuning en betrokkenheid tot dusver, veral tydens haar deelname aan die Wêreld Karaoke Kompetisie wat in Finland plaasgevind het. “Ek wil graag my dank uitspreek teenoor Eden Distriksmunisipaliteit en ook aan God vir die voorreg wat my gegun is om na Helsinki, Finland te kon reis omdat ek nie uit ‘n bevoorregte agtergrond kom nie,” het Denice gesê. 

Na afloop van ‘n gedugte kompetisie het Denice uit 54 lande in die 15de plek geeindig.

Sedert haar terugkoms in die distrik het sy saam met Rdl. Theresa Van Rensburg, Theresa Le Roux-Rossouw (Denice se Bestuurder: Kommunikasie en Publieke Verhoudingsbestuur) en David September (HUB: Wêreld Karaoke Kampioenskappe, Suid-Afrika) begin beplan aan ‘n streekswye kompetisie vir minderbevoorregte musiekkunstenaars. Sy beoog om skole in die distrik te besoek om ander talentvolle jeug te identifiseer. Sy wil nie net haar eie drome verwesenlik nie, maar dit ook vir ander moontlik maak om in haar voetspore te volg.

Rdl. Van Rensburg het gesê dat Denice ‘n voorbeeld vir ander  jongpersone is.  “Sy is die geleentheid gebied om vooruit te gaan en het nie toegelaat dat struikelblokke haar weerhou om haar drome te vervul nie.”

Rdl. Lichaba het Denice bedank vir haar rol om jongmense te inspireer en vir hulle te bewys dat ‘n jongmens van enige agtergrond sukses kan behaal.

Eden DM Speaker, Mark Willemse het namens die Distrikmunisipaliteit sy gelukwense aan haar oorgedra.  

Eden DM se Uitvoerende Burgemeester, Rdl. Memory Booysen, het gesê: “Ons as Suid-Afrikaners is trots op jou en vir die sukses wat jy behaal het. Ons glo dat jou verhaal ander sal motiveer om hulle potensiaal te bereik.”

Share Button
,

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →